‘Geen diefstal’ by spogskool
Dissiplinêre stappe gaan by ‘n bekende laerskool in Windhoek volg, hoewel geen bewyse van misdrywe gevind is nie.
Dani Booysen – Die ouers en onderwysers van die Primêre Skool Pionierspark is vandeesmaand ingelig oor die uitslag van ‘n tweede ondersoek na hierdie spoginstelling in Windhoek se geldsake.
Dit volg op klagte wat in Januarie 2016 deur ‘n vorige skoolkomitee aanhangig gemaak is.
Volgens die direkteur van onderwys vir die Khomasstreek, mnr. Gerard Vries, is geen bewyse van diefstal gevind nie. Hy het egter gesê dissiplinêre stappe sal wel volg, omdat daar nie aan ministeriële voorskrifte oor finansiële bestuur voldoen is nie.
Ter wille van deursigtigheid is een spesifieke lêer, wat inligting oor uitgawes tydens ‘n sporttoer bevat, volgens Vries ook aan die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) oorhandig.
Bewyse vir dié uitgawes is volgens Vries baie laat aan die ondersoekspan oorhandig.
Terugvoer oor die ondersoek en die weg vorentoe is op 7 en 8 Maart by twee ouervergaderings aan die skoolgemeenskap gegee. Emosies het by tye hoog geloop.
“Die verslag het nie bewyse van diefstal gevind nie,” het Vries op 9 Maart aan Republikein gesê. “Die hoofkwessies was beheer en dokumentasie.”
EEN STEL REËLS VIR ALMAL
Volgens Vries word streng reëls oor geldsake ook by baie ander skole nie nagekom nie, maar dieselfde maatstawwe moet vir almal geld.
Hoewel stappe gaan volg, is personeelaangeleenthede volgens Vries vertroulik en sal hy dus geen verdere besonderhede verstrek nie.
Vier senior rekenmeesters het die opvolgondersoek behartig.
Die direkteur het benadruk dat geld wat van die regering ontvang word en ander trustgelde glad nie vermeng mag word nie. “Vir enige werk wat meer as N$5 000 sal kos, moet skole drie kwotasies kry,” het hy bygevoeg.
Vries het ook die korrekte gebruik van rekwisisies en die uitreiking van wettige kwitansies genoem.
Volgens hom moet die direktoraat vooraf toestemming gee vir alle spesiale geldinsamelings en daar is opnuut verlede jaar aan alle skole ‘n omsendskrywe oor voorskrifte in verband met sport- en ander skooltoere gestuur.
“Daar was met reg rede tot kommer,” het Vries oor die aanvanklike klagte gesê.
Ouers is op 31 Augustus 2016 vir die eerste keer oor bevindinge van ‘n voorlopige ondersoek ingelig. Tydens die ontmoeting is onder meer opdrag gegee dat die betaling van enige “kommissie, toelae en sagte lenings” aan personeellede summier gestaak moes word.
Vries het erken dat hy tydens drie weke gelede se vergaderings onderwysers en die skoolhoof by tye versoek het om die saal te verlaat. Dit was volgens hom om polarisering te probeer verminder.
Dr. Eddie Turner, voorsitter van die skoolraad, het Vrydag gesê die skool is uiters ernstig oor goeie bestuur en die nakoming van alle regulasies en wetlike voorskrifte. “Dit gaan oor die kinders en hulle toekoms,” het hy benadruk. “Ons doen alles moontlik om hierdie kwessies op te los,” het Turner verseker.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie