Geen borgtog vir NamPost-'rowers'
Geen borgtog vir NamPost-'rowers'

Geen borgtog vir NamPost-'rowers'

Twee verdagtes wat in verband met die roof van 'n platteland­se poskantoor aangekeer is, se saak is tot 23 November ­uit­gestel.
NAMPA
Borgtog is aan twee ­beskuldigdes geweier wat na bewering op 1 September die NamPost-­kantoor op Fransfontein in die Kunene­streek van N$300 000 beroof het.

Die twee het Maandag op Khorixas in die landdroshof verskyn.

Die klagte teen mnre. Simon Petrus Ganeb (65) en Samuel Goagoseb (52) sluit in die van roof, aanranding en huisbraak met die opset om te steel en aan te rand.

Tydens die voorval is die nedersetting se posmeester glo in sy huis ­aangerand totdat hy die poskantoor se sleutels aan hulle oorhandig het, voor hulle die plaaslike NamPost-tak na ­bewering beroof het.

Die staatsaanklaer, mnr. Johannes Inongelwa, het aangevoer die verdagtes moet borgtog geweier word, omdat die ondersoek nog in 'n vroeë stadium is.

“Die staat staan in hierdie stadium borgtog teen omdat drie verdagtes steeds op vrye voet is. Dit is nog vroeg in die ondersoek,” het Inongelwa gesê.

Landdros Sean Nangombe het die saak tot 23 November vir verdere polisie­ondersoek uitgestel.

Intussen het die woordvoerder vir die Namibiese polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, in 'n nuus­verklaring gesê nog 'n verdagte is op Otjiwarongo in hegtenis geneem.

Dié persoon is Maandag vasgetrek en sal binnekort sy eerste hofver­skyning maak.

Die gesteelde geld is tot dusver nie gevind nie.

Alarm is gemaak toe 'n sekuriteitswag op 1 September omstreeks middernag twee mense onder verdagte omstandighede van die poskantoor sien weghardloop het. Die wag wat elders naby die poskantoor aan diens was, het die polisie gekontak.

Volgens 'n onlangse Nampol-­misdaadverslag het die polisie met hul aankoms gesien die deure van die poskantoor, insluitende 'n traliedeur asook dié van die kluis, staan wawyd oop.

Die polisie het toe na die posmeester se huis gery om hom van die voorval in kennis te stel. Hy is egter in 'n bedenk­like toestand gevind – erg ­aangerand en bebloed op die vloer, vasgebind met elektriese kabels.

Die posmeester is op Khorixas in die staatshospitaal opgeneem.

Hy het vertel dat hy deur drie ­onbekende persone aangerand is, van wie twee balaklawas gedra het. Hulle het hom glo geslaan en die poskantoor se sleutels geëis.

Vroeër die dag het die poskantoor N$300 000 in kontant ontvang wat as pensioengeld uitbetaal moes word. Die polisie sê tydens hul ondersoek is die kluis leeg gevind. – Bygewerk van Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-05-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer