Geen bek-en-klou by Okongo aangemeld
Ronelle Rademeyer - Berigte dat bek-en-klouseer opnuut in die Okongo-kiesafdeling in die Ohangwenastreek uitgebreek het, is onwaar, sê Namibië se hoofveeartsenybeampte, dr. Milton Maseke.
Hy het gister by navraag reageer op ’n berig deur Nampa waarin goewerneur Usko Nghaamwa van dié streek Maandag gesê het die gevreesde dieresiekte is weer onder vee by verskeie nedersettings in dié kiesafdeling waargeneem.
Volgens Maseke is spanne wel deur die direktoraat veeartsenydienste (DVS) in die ministerie van landbou, water en bosbou in die omgewing van die Katwitwi-grenspos in Kavango-Wes ontplooi nadat bek-en-klouseer aan die Angolese kant van dié grenspos uitgebreek het.
Hy sê die spanne is daarheen gestuur om boere in die gebied se vee in te ent en die situasie te monitor.
Bek-en-klouseer het in Mei verlede jaar vir die eerste keer in dekades in die sentraal-noordelike streke van Namibië uitgebreek en ’n bewegingsverbod vir vee en diereprodukte is dadelik in werking gestel.
Dit het die bemarking van vee tot stilstand gedwing en tot groot verliese vir boere gely wat terselfdertyd ook met die uitwerking van die droogte te kampe gehad het.
Die gebied is op 22 Januarie vanjaar weer vry verklaar van bek-en-klouseer ná ’n periode van ses maande waartydens geen nuwe gevalle van die siekte in die Ohangwena-, Oshikoto- en Omusatistreek aangemeld is nie.
Mnr. John Mutorwa, minister van landbou, water en bosbou het in daardie stadium ’n beroep op boere gedoen om op ’n gereedheidsgrondslag te bly sodat nuwe uitbrekings nie weer voorkom nie.
Die nagenoeg 200 000 landelike huishoudings in Namibië se agt noordelike kommunale streke besit sowat 1,4 miljoen beeste en 1,3 miljoen stuks kleinvee, sê die Vleisraad in sy nuusbrief, Namibia Meat Cronicle.
Vanweë die tradisionele oorgrens-beweging van vee tussen Namibië en Angola agter weiding aan, bly nougesete monitering vir moontlike uitbrekings van dieresiektes een van DVS se sleutelprioriteite.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie