Geeltrui vir Froome, Louis maak SA trots

Jaaroorsig: Fietsry
Andrew Poolman
Wim Pretorius



Chris Froome het sy naam in 2016 in die geskiedenisboek van die Tour de France geskryf en sal voortaan in dieselfde asem as Miguel Indurain genoem word. Maar in 2016 was daar ook 'n sterker Suid-Afrikaanse geurtjie aan dié gesogte fietsren.

Froome het vanjaar, soos Indurain in 1995, sy derde Tour de France-titel ingepalm.

'n Totaal van 198 fietsryers van 22 spanne het ingeskryf, met die tweede en derde plek wat onderskeidelik aan Romain Bardet van AG2R La Mondiale en Nairo Quintana van Movistar gegaan het.

Suid-Afrika se eie Louis Meintjes het 'n merkwaardige agtste plek behaal en sodoende het hy die suksesvolste Suid-Afrikaner ooit in dié veeleisende wedren geword.

Die Noordwes-geborene het die eerste Suid-Afrikaner geword om in die toptien te eindig. Maar dit was nie sy enigste prestasie nie. Hy het tweede geëindig in die jong jaers se stryd om die wit trui – nóg 'n eerste vir die land.

Doug Ryder, die Suid-Afrikaanse Dimension Data-span se spanbaas, het verlede jaar voorspel dat 'n Afrika-ryer binne die volgende dekade as Tour de France-wenner gekroon sal word. In Meintjes het die vasteland beslis 'n jaer wat daardie voorspelling kan laat waar word.

Ryder en sy Dimension Data-span het in die eerste dae van die Tour heelwat gehad om oor te glimlag nadat hul superster-jaer Mark Cavendish (3) en sy Britse landgenoot Steve Cummings tussen hulle vier van die eerste sewe skofte gewen het.

Maar nadat die stof by die Champs Elysees gaan lê het, moes Dimension Data steeds vaskyk teen die feit dat hulle heel laaste van die 22 spanne in die spanklassifikasie geëindig het.

Die Tour sou aan die einde van die dag behoort aan Froome, wat in die agtste skof sy eerste sege van vanjaar se fietstoer behaal het en nooit weer sy greep op die geeltrui verloor het nie.

Hy het meer as vier minute beter as die naaswenner Bardet gevaar oor die 21 skofte.



BERGFIETSRY

Karl Platt het vanjaar sy indrukwekkende vertonings by die Cape Epic voortgesit deur dié fietsren vir die vyfde keer te wen. Net Christoph Sauser kon al voorheen soveel Epic-sukses smaak.

Platt en sy Bulls-spanmaat, Urs Huber van Switserland, het die 2016-weergawe van die Cape Epic gemaklik met 13 minute en agt sekondes gewen.

In 2017 begin die Epic op 19 Maart met 'n proloog op die Meerendal-wynlandgoed en eindig by die Val de Vie-landgoed naby Franschhoek.

Die 2011 Tour-kampioen, Cadel Evans, en George Hincapie, wat die Tour 17 keer voltooi het, sal vir die BMC Absa Racing-span trap in Suid-Afrika se voorste bergfiets-skoftoer. 

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer