Gee ons redes om fees te vier
Gee ons redes om fees te vier

Gee ons redes om fees te vier

Mandy Rittmann
WILLEM DE WET SKRYF:

Die Mercs loop en die shopping trips in die buiteland is 'n gegewe. On­afhanklikheid word gevier en die geld loop soos water, terwyl alles om ons inmekaar tuimel.

Vat daardie geld wat julle op 'n fees wil spandeeer saam met die nuwe fish- en ander rot-hoofkantoor wat beplan word se geld en betaal die skole se agterstallige rekeninge vir openbare dienste en koop die boeke, sodat ons kinders kan leer om hopelik eendag beter leiers te word as die waarmee ons tans sit.

Skop die NDF se agterent sodat hulle die bosse gaan afkap wat tans groei op die eens spoggerige Grootfontein-lugmagbasis se aanloopbaan en die gras uitskoffel, lekkende krane regmaak, riool herstel en toilette weer in werkende orde kry. Hulle lê soos vrot velle daar rond en word betaal om alles te sien vergaan.

Kry die Namibia Airports Company (NAC) om iemand aan te sê om met 'n gifkan oor Eros-lughawe se aanloopbaan te loop en die gras en bosse wat op die baan uit die krake groei te gaan doodspuit voor hy ook lyk soos Grootfontein.

Kry City of Windhoek om die vier jaar lange rioolprobleem agter die nuwe immigrasiegebou in Louwstraat en op etlike ander plekke in Windhoek uit te sorteer en vir 'n slag hul geld te verdien.

Kry werke om 'n stel gereedskap te gaan koop en te begin om die stukkende karre van Nampol reg te maak, sodat diens gelewer kan word, eerder as om te sit en wag dat daar nuwe karre met belastinggeld gekoop word.

Kry die ministerie van sport om ­eienaarskap van hul sportfasiliteite te neem en dit in stand te hou eerder as om 'n politiekery van sport te maak.

Doen iets beter met die geld as om fees te vier. Die euforie van onafhanklikheid is verby en die realiteit van onbeholpenheid, korrupsie en verval is besig om daardie mylpaal se blink te verdof.

Al meer Namibiërs kom in ­opstand teen die huidige verval en julle vermaak nie meer die man op straat met nuwe geboue en nuwe ­hoofkantore, blink Duitse ampsmotors en buitelandse inkopietoere nie. Die mense van Namibië wil iets sien gebeur wat die man op straat se lewensgehalte verbeter en nie net lees van hoe die elite en politieke kamerade in oorvloed lewe, terwyl die res van Namibië en sy mense vergaan nie.

Het ons leiers wat sake kan omkeer en seker maak onafhanklikheid bly opgeteken as dié gebeurtenis wat Namibië great gemaak het. Maak ons trots, sodat ons iets het om te vier en oor te dans op ­Onafhanklikheidsdag, eerder as om net weer te gaan luister na 'n politieke aanslag op die verlede in 'n poging om die stemmers te probeer oorreed om die verval van die hede te aanvaar en dit te regverdig.

Kommentaar

Republikein 2026-06-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer