Gedugte Ghanees soek Kautondokwa se titel

Boks
Andrew Poolman
Die huidige WBO Afrika middelgewigkampioen Walter (The Executioner) Kautondokwa berei hom voor vir 'n moeilike geveg waarin hy sy titel teen dié beheerliggaam se tussentydse Afrika-titelhouer Obodai Sai van Ghana sal verdedig.

Die geveg is vir 16 Junie in Ghana se hoofstad Accra geskeduleer, het die Namibiese vegter se promotor Nestor Tobias gister aangekondig.

Kautondokwa is ná 14 gevegte onoorwonne en het afgesien van sy debuutgeveg sy laaste 13 gevegte met uitklophoue beëindig. Juis om dié rede vind Tobias-hulle dit egter nie altyd maklik om waardige opponente te vind wat hom op die hoogste vlak sal beproef sodat hy op die wêreldtoneel behoorlik kan deurbreek nie.

“Ek beskou hom steeds as een van die hardste slaners in die middelgewigklas,” sê Tobias, wat ook sy afrigter is.

Sy opponent, Obodai Sai oftewel “The Miracle”, het 'n ewe indrukwekkende rekord in sy 34 gevegte opgebou. Hy het 32 oorwinnings behaal (24 met uitklophoue) en het twee nederlae. In geveg nommer 17 het die onoorwonne Engelsman Jamie Cox hom in 2011 in Londen met punte geklop en sy Statebond superweltergewigtitel afgeneem.

In November 2014 het Sai die Amerikaner Derick Webster in Pennsilvanië gaan aandurf. Binne 22 sekondes van die eerste ronde het Webster vol met twee linkerhaakhoue getref, wat die Ghanees eers op een knie laat afsak het voordat hy bewegingloos bly lê het en uitgetel is.

“The Miracle” se enigste twee nederlae is in sy enigste buitelandse besoeke toegedien – maar in sy tuisland Ghana is hy nog nie geklop nie. Op 30-jarige leeftyd is hy ook jonger as die Namibiese kampioen.

Dit sal Kautondokwa se eerste professionele geveg buite sy landsgrense wees en sal dus 'n insiggewende toets vir sy karakter en selfvertroue bied.

“Ek is baie opgewonde oor hierdie geveg teen 'n baie taai opponent. Ek het geweet die tyd sal aanbreek wanneer ek buite Namibië moet gaan boks, maar ek is nie bekommerd of geïntimideer nie, want ek weet dat God se genade genoeg is,” het Kautondokwa vol vertroue gesê.

“Ek oefen hard, ek is reeds vir vier jaar 'n beroepsbokser en ek sal onoorwonne terugkeer.”

Op die WBO se wêreldranglys is Kautondokwa tans tiende en Sai is nommer 12. Die ontmoeting tussen twee uiters ambisieuse vegters is dus gewis een om na uit te sien.

• Die ander Namibiërs in top-15 posisies op die huidige WBO-ranglys is Paulus (Hitman) Moses as nommer vier van die liggewigte (61.24 kg); Sakaria (Desert Storm) Lukas as nr. 8 van die veergewigte (57.15 kg) en Japhet Uutoni (agtste, mini-vlieggewig, 47.63 kg).

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer