Gediertes van 'n ander planeet

Dani Booysen
ANONIEM SKRYF:

Geslagsgebaseerde geweld sal nie end kry nie. Hoekom?

Eerstens word die manlike geslag alleenlik beskuldig vir geslagsgebaseerde geweld (gender based violence) wat klaar verkeerd is, want 'n saak het altyd drie kante. Die man se kant van die saak, die vrou se kant van die saak en die regte storie.

Ons kan toi-toi soos ons wil, maar niemand van ons kan voorspel wat sal môre of oormôre by 'n volgende huis gebeur nie, en elke saak het sy meriete. Elke huishouding verskil, elke huis het sy eie kruis, geen twee huishoudings se omstandighede is dieselfde nie.

Die optogte en toi-toi maak net dinge moeilik vir beide partye, en die kinders ly die meeste daaronder.

Ons mans voel al soos gediertes van 'n ander planeet, terwyl die vroue alles in hul vermoë doen om alle mans te versleg.

Daar moet eerder na die wortel van die kwaad gesoek word, dan sal ons dalk 'n oplossing vind, anders nie. Dit help nie om net die simptome te behandel nie.

Daar kan die langste tronkstraf opgelê word, maar geslagsgebaseerde sal nie daar eindig nie.

Takel die probleem uit 'n man se oogpunt ook. Die siening net uit 'n vrou se oogpunt is al holrug gery en is meestal eensydig; net die weergawe van die vrou.

Ek slaap onder een dak saam met 'n vrou, onder dieselfde laken. Ons eet saam, lag saam, het kinders saam, noem maar op.

Ek sal nie opstaan en 'n vrou wreed aanrand of vermoor met wie ek al dié genoemde dinge - my hele lewe - deel nie. Nee, ek sal nie.

Mens praat nie geweld goed nie. Nee dis verkeerd, maar kan vrouens veral in Namibië vir 'n slag ook eerlik wees met hulself. Nie met die samelewing nie, met jouself. Net jy weet baie keer wat gaan rêrig in jou huwelik of verhouding aan, en ek bedoel "rêrig" - nie die storie wat vir die mense daar buite opgedis word nie.

Ek's 'n man en baie keer doen vroue baie goed aan ons waaroor ons liewer sal stilbly, waarvan die wêreld daarbuite niks weet nie. My vraag is wat doen die Namibiese vroue en meisies aan hul mans?

Kom ons takel die probleem uit altwee oogpunte asseblief as daar 'n oplossing gevind moet word. Genoeg gehoor van die eensydige getjank oor mans.

Vrouens, wat doen julle nie reg nie. Doen vir 'n slag selfintrospeksie.

Baie dankie.

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer