Gay-huwelike: Niks verander vir Namibië

Steeds net heteroseksuele verbintenisse erken

17 October 2019 | Gesondheid
Henriette Lamprecht – Die moderatuur van die NG Kerk in Namibië is “diep besorg” oor spanning en ongelukkigheid by lidmate en leraars oor ’n besluit wat by die onlangse Algemene Sinode in Suid-Afrika geneem is, wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en –verbintenisse in die kerk.

Die Sinode van die NG Kerk in Namibië het by monde van sy aktuaris en registrateur, ds. Thijs van der Merwe, beklemtoon die besluit wat die kerk in 2016 hieroor geneem het, geld steeds.

Volgens dié besluit word slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou en word selfdegeslagverbintenisse nie erken nie.

Van der Merwe het gemaan die NG Kerk in Namibië is ’n selfstandige kerk en kan as sodanig sy eie besluite oor sake soos dié neem en handhaaf. Hy het gesê die Algemene Sinode is ook ten gunste daarvan dat plaaslike gemeentes self oor die saak besluit.

“Die NGK in Namibië het reeds in 2016 by wyse van sy besluit standpunt ingeneem oor die saak en is onomwonde duidelik daaroor in daardie besluit. Dit stel dit duidelik dat die huwelik slegs geag word as die verbintenis tussen een man en een vrou voor die Here. Selfdegeslagverbintenisse word nie daarin erken nie.”

Volgens Van der Merwe is Namibië tans in die wurggreep van een van die ergste droogtes nóg en veg mense letterlik om oorlewing.

“Hulle het ons pastorale ondersteuning in die eerste plek nodig en nie verdere spanning en verwarring nie,” het hy gesê.

Hy het gemaan teen “ongekontroleerde kommunikasie op sosiale media wat al soveel skade berokken en mense mislei het”.

Volgens hom het die Algemene Sinode ook ‘n taakspan aangewys om “almal in sinodes te ontmoet om vrae te beantwoord”.

Van der Merwe het geantwoord in reaksie op ’n groep van 16 NG Kerk-predikante in Namibië wat in ‘n verklaring wat wyd op sosiale media versprei en ook in Suid-Afrikaanse media verskyn het, hul “groot hartseer, verslaentheid en gebrokenheid voor God” oor die besluit te kenne gee.

Volgens die groep beswaardes is die besluit wat by die Algemene Sinode geneem is, “nie deur die Heilige Gees bepaal nie, maar eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees”.

Hulle beskryf die besluit ook as “ten diepste in stryd met God se Woord en dus as ‘n minagting van die gesag van God se Woord”.

Die beswaardes sê ook in hul verklaring hulle wil “medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te leef”.

Ook staan hul deure oop om “alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei”.

Die Algemene Sinode het as deel van sy besluit oor selfdegeslagverbintenisse en -verhoudings in die kerk erken die verloop van die verwante debat en besluite in die kerk die afgelope jare het lidmate verwar en seergemaak.

Hy vra ook gay lidmate en hul families wie se menswaardigheid wetend en onwetend misken is “uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het”.

Die Algemene Sinode verbind hom ook daartoe om “in die gees van die besluit” ruimtes te skep vir gesprek waarin almal se menswaardigheid gerespekteer word.

Hy bedank gay lidmate wat met “waagmoedige en konstruktiewe gesprekke in die kerk” volgehou het.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Twee 'renosterstropers' verskyn in Gobabis-hof

1st of June 16:00 | Howe

Twee vermeende renosterstropers het vandag in die landdroshof op Gobabis verskyn.Mnre. Alberto Mbwale en Joseph Matheus het op klagte van die onwettige jag van spesiaal...

Pastoor Babi steeds agter tralies

3 ure gelede | Howe

Pastoor Jackson Babi (30) van die House of Joy Ministries en sy medebeskuldigde, mnr. Friza Dumeni (25), bly steeds agter tralies.Landdros Linus Samunzela het vanoggend...

25ste Covid-19-geval bevestig

5 ure gelede | Gesondheid

'n Vroulike gesondheidswerker (32) is Namibië se jongste Covid-19-geval. Dit bring die aantal bevestigde Covid-19-gevalle in Namibië op 25 te staan. Volgens die minister van...

Hof hoor president is 'mislei' oor arbeidsregulasies

15 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer - Pres. Hage Geingob is “verkeerd geadviseer” met die opstel van die gewraakte arbeidsregulasies waarvan die grondwetlikheid Vrydag in die hoërhof deur Namibiese...

Namibiërs in haglike omstandighede onder SA-kwarantyn

15 ure gelede | Gesondheid

Twee vroue van Windhoek en die een se 16-jarige dogter meen die vervalle staatshospitaal by Nababeep naby Springbok in die Noord-Kaap waar hulle in kwarantyn...

'Profeet' Babi se borgaansoek vandag

15 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg – Die bekende, charismatiese en selferkende profeet van die House of Joy Ministries, pastoor Jackson Babi (30), en sy medebeskuldigde, mnr. Friza Dumeni,...

Twee bemanningslede positief vir Covid-19

15 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht & Leandrea Louw – Walvisbaai huisves tans drie aktiewe gevalle van Covid-19 ná ‘n 51-jarige man Saterdag positief vir die virussiekte getoets het....

Fishrot-manne skarrel vir borgtog

15 ure gelede | Misdaad

Augetto Graig – Die Windhoek-landdroshof het Vrydag met verskeie Fishrot-sake gewemel, met borgtogaansoeke wat met aansoeke vir die verlenging van tyd vir verdere ondersoek, meegeding...

Weer, Maandag 1 Junie 2020

15 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die Zambezi- en Kavangostreek. Elders sonnig en warm tot baie warm. Winderige weer sal oor die binneland heers....