Froome vestig hom as fietsryreus

Andrew Poolman
Chris Froome het hom by die kolosse van fietsry aangesluit toe hy Sondag die Vuelta a España in dieselfde jaar as die Tour de France gewen het.

Hy is die eerste fietsryer sedert die Fransman Bernard Hinault in 1978 wat daarin kon slaag om albei dié toere in dieselfde jaar te wen.

Jacques Anquetil, ook ’n Fransman, het dit in 1963 ook vermag.

Froome is egter die eerste ryer wat dié dubbeldoor kon wen vandat die Vuelta se wegspring verskuif is van April na laat Augustus, wanneer temperature in Spanje op hul hoogste is.

Selfs al het Froome die Tour de France in onlangse jare oorheers, met vier oorwinnings in vyf toere en drie seges in ’n ry, het ’n sege hom in die Vuelta bly ontwyk.

“Ek dink om die Tour en Vuelta in een seisoen te wen, is waarskynlik my grootste prestasie,” het Froome ná sy oorwinning gesê.

“Ek moet noem dit is waarskynlik die taaiste groot fietstoer waaraan ek nóg deelgeneem het. Daar was elke dag iets anders wat gebeur het.

“Daar was goeie dae en dan is daar dae wat ek op die grond gelê en bloei het en gedink het my toer is verby. Dit was absoluut genadeloos.”

Ses jaar gelede het Froome, wat in Kenia gebore is, homself in die Vuelta van ’n onbekende fietsryer tot ’n ernstige titelaanspraakmaker met ’n sterk vertoning in die berge omskep.

Hy het daardie jaar tweede geëindig en het die kroon met 13 sekondes misgeloop.

Daardie onverwagse, maar merkwaardige vertoning het ’n brandende begeerte om die Vuelta te wen by Froome laat posvat. Hy het vierde in 2012 geëindig en weer tweede in 2014 en 2016. Hy moes hom in 2015 onttrek nadat hy sy voet gebreek het.

“Chris glimlag nou meer as toe hy die Tour de France gewen het,” het David Lopez, ’n Team Sky-spanmaat van Froome, gesê.

Julie Harrington, uitvoerende hoof van Fietsry Brittanje, het gesê Froome is nou een van Brittanje se grootste sportsterre nóg.

“Om die Tour en Vuelta in dieselfde jaar te wen, plaas hom in dieselfde kategorie as die beste ryers tot nog toe. Die fietsrygemeenskap hier is baie trots op hom.” – Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer