Froome dalk uit Tour geskop u2013 maar su00e1l ry
Froome dalk uit Tour geskop u2013 maar su00e1l ry

Froome dalk uit Tour geskop – maar sál ry

Fietsry
Chris Froome sál vanjaar aan die Tour de France deelneem al probeer die eienaars van fietsry se grootste wedren om die viermalige wenner weens ’n dwelmondersoek te verhoed om dit te doen, sê die verdedigende kampioen se vrou.

Die Franse dagblad Le Monde het Sondag berig dat die Amaury Sport Organisation (ASO), wat die Tour reël, probeer om Froome te keer om daaraan deel te neem. Die organisasie het glo ’n brief aan Team Sky, vir wie Froome ry, gestuur en gevra dat Froome nie in hul span vir die toer moet wees nie.

Team Sky het volgens Cycling News daarop gereageer deur te sê hulle is “vol vertroue dat Chris in die Tour sal ry, want hy weet hy het niks verkeerd gedoen nie”.

’n Finale besluit oor die organiseerders se poging om Froome uit die Tour te skop, sal na verwagting Dinsdag geneem word, wanneer Team Sky, die ASO en die Franse Olimpiese Komitee oor die kwessie vergader. Dié drie rolspelers sal elk ’n arbiter aanwys om oor die Keniaans-gebore Brit se lot te besluit.

Dit is al vir sewe maande bekend dat Froome verlede September positief getoets het vir dubbel die toegelate dosis salbutamol (’n bestanddeel in die asmamedikasie wat hy gebruik), maar hy is nietemin toegelaat om steeds deel te neem terwyl die saak ondersoek word.

Sedertdien het Froome ongestoord aangehou deelneem en verlede maand die Giro d’Italia (een van fietsry se drie Grand Tours) gewen. ASO, die organiseerders van die Tour de France, wou nie kommentaar op die Le Monde-berig lewer nie.

Froome het nog altyd volgehou daar is niks wat hom van sy fiets sal afhou nie, en sy vrou, Michelle, het dit Sondag weer aan Reuters gesê.

“Chris sál in die Tour ry,” was haar woorde.

Froome is in Junie deur die vyfmalige Tour de France-wenner, Bernard Hinault, gekritiseer. Hinault het gevra dat ander ryers moet staak indien die Brit toegelaat word om aan die wedren deel te neem. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer