Fredericks-stigting se nuutste goeie daad

Die jong naelloper van Grootfontein se tyd in die 400 is steeds die beste ter wêreld vanjaar vir o.20-vroue.
Die Frank Fredericks-stigting het opnuut tot die redding van een van die land se voorste jong atlete gekom met 'n skenking van N$30 000 aan die naelloper Beatrice Masilingi.

Die 16-jarige Masilingi het op 7 Maart vanjaar op Swakopmund die 400 meter in 52.19 sekondes afgeblits wat tot nou steeds die vinnigste tyd van die jaar ter wêreld vir o.18- én o.20-vroue is.

Verlede jaar by die Afrikaspele in Marokko het sy die eindrondte van die 400 meter gehaal en in die sewende posisie klaargemaak.

Sy is tans 'n koshuisinwoner by Agri College op Grootfontein, in die sorg van mnr. Henk Botha wat ook haar oefen- en afrigtingsprogram hanteer. Beatrice het egter agter geraak met die betaling van haar koshuisgeld (N$3 500 per maand), wat daartoe bygedra het dat sy die stigting om hulp genader het.

Die Frank Fredericks-stigting het haar versoek toegestaan en ingestem om haar 'n beurs van N$30 000 te gee.

Frank Fredericks, viermalige Olimpiese medaljewenner as naelloper in die 1990's, sê: “Die stigting kan nie elke enkele atleet in nood uithelp nie, maar ons staan by ons mandaat en help waar ons kan.

“Beatrice is 'n gemotiveerde jong atleet wat soveel potensiaal wys. Om haar met haar koshuisgeld by te staan, was dus vir ons 'n groot plesier,” het hy bygevoeg.

In reaksie het Masilingi gesê sy is dankbaar dat die stigting tot haar redding gekom het.

“Ek is baie dankbaar teenoor die Frank Fredericks-stigting vir hierdie skenking; dit beteken vir my baie. Dit maak sake makliker om vir myself oefenapparaat en hardloopuitrusting aan te koop. Mag God u seën.”

• Die stigting het ook N$1 000 op die spel geplaas wat gewen kon word deur atlete op nasionale vlak met deelname aan tuisoefeninge tydens die nasionale inperking en deur video daarvan op te laai. Die kompetisie het op 31 Mei gesluit en 29 sportmense, insluitend lede van die Namibiese vrouehokkiespan, het hieruit voordeel getrek.

Die stigting het dieselfde uitdaging tans ook vir aspirerende atlete aan die gang, met die sluitingsdatum einde Junie.

Fredericks sê die stigting het die afgelope tyd talle versoeke uit die publiek ontvang. Hy moedig maat­skappye aan om aan boord te kom en atlete by te staan, veral diegene wat vanweë die pandemie hul bron van inkomste verloor het.

Die stigting het vroeg in April ook N$50 000 aan die gesiggestremde naelloper Johannes Nambala toegestaan as bystand tydens die verlengde tydperk vanweë die 12 maande waarmee die Tokio Paralimpiese Spele tot volgende jaar uitgestel is.

Kommentaar

Republikein 2026-07-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer