Fourie du Preez terug by Loftus

Rugby
Cobus Claassen – Fourie du Preez is terug in die Bul-kraal.
Jake White was nie lank by Loftus Versfeld nie toe hy, as die Bulle se direkteur van rugby en hoofafrigter, dié voormalige Springbok-skrumskakel se naam op sy wenslys aangebring het.
White beskou Du Preez, wat van 2002 tot 2011 ’n sleutelspeler in die Bulle se gedugte kampioenspan van daardie era was, as ’n rugbygenie met onskatbare intellektuele eiendom.
Du Preez het sy gevierde loopbaan in 2016 by Suntory in Japan afgesluit en daar was sedertdien dikwels sprake dat hy op topvlak kan begin afrig.
Hy het verlede week met die skrumskakels in die Bulle-groep begin werk.
Du Preez is as ’n konsultant betrek en sal een keer per week sy kennis en vaardighede by Loftus terugploeg.
White sê hy is verheug dat dié oud-Bok van 76 toetse en drie Wêreldbeker-toernooie ingestem het om die jong Springbokke soos Embrose Papier en Ivan van Zyl onder sy vlerk te neem.
Keagan Johannes, verlede seisoen ’n lid van die Ligbloues se nasionale o.21-kampioenspan, is ’n opkomende ster en kan ook baat by Du Preez se kundigheid.
Du Preez was White se voorkeur-skrumskakel toe hy die Springbokke tussen 2004 en 2007 afgerig het en het ’n sleutelrol in die Bokke se WB-triomf in 2007 gespeel.
“Fourie sal baie waardevol vir ons wees. Hy het werklik een van die slimste rugbybreine in die spel,” sê White.
Die Bulle-breier het ’n ruk terug gesê hy sal Du Preez wil inspan soos die Wallaby-legende George Gregan destyds toe hy die Brumbies afgerig het (2012-’13).
Daar word gehoop dat Papier en Van Zyl onder Du Preez se mentorskap sal gedy.
Albei het in 2018 Springbokke geword, maar hulle het verlede jaar nie genoeg gedoen om die Wêreldbeker-groep te haal nie.
White sê die Bulle is in ’n gunstige posisie om twee skrumskakels met sulke uiteenlopende sterkpunte by Loftus te hê en meen albei het ’n groot rol.
Marco Jansen van Vuren is as ’n buite-agterspeler versool, maar White sê hy kan steeds volgende jaar in die nr. 9-trui gekies word wanneer daar op swaar velde in die Noordelike Halfrond gespeel word.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer