Foto van Kombat-kliniek u201cmisleidendu201d
Foto van Kombat-kliniek u201cmisleidendu201d

Foto van Kombat-kliniek “misleidend”

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste lewer die beste diens moontlik met beperkte hulpbronne.
Henriette Lamprecht
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) het berigte en foto’s van ’n vervalle gebou op Kombat wat as kliniek gebruik word as “vals, onwaar en misleidend” afgemaak.

Volgens die ministerie se uitvoerende direkteur, mnr. Ben Nangombe, is Kombat ‘n myndorp waar mynaktiwiteite in 2008 weens ondergrondse vloede gestaak is.

Gewoonlik val die dorpsbestuur onder die jurisdiksie van nasionale, streek- of plaaslike regeringsowerhede.

As ‘n myndorp was Kombat onder die private administrasie van die myn se verskeie eienaars.

Hoewel mynaktiwiteite hier gestaak is, het die dorp steeds heelwat inwoners en word dit ook deur plaaswerkers en hul families van nabygeleë plase vir onder meer gesondheidsdienste en ander basiese noodsaaklikhede besoek.

Volgens Nangombe het die mynoperateurs ‘n gebou met twee kamers vir ‘n kliniek beskikbaar gestel terwyl die myn nog in bedryf was.

Volgens hom was daar geen formele ooreenkoms tussen die mynwerkers en die ministerie van gesondheid nie.

In 2015 het ‘n private Suid-Afrikaanse maatskappy, Grove Mining, eienaarskap van Kombat oorgeneem en is dit later aan ‘n Namibiese maatskappy, Manilla Investment, verkoop.

Nangombe sê onderhandelinge oor die ministerie se gebruik van die gebou (kliniek) is van stapel gestuur.

“’n Ooreenkoms wat deur die kantoor van die aanklaer-generaal bekragtig is, is met die ministerie aangegaan om die gebou vir ‘n bedrag van N$50 000 per maand te huur,” het hy gesê.

Die huur het die gebruik van die gebou, water, elektrisiteit en die instandhouding van infrastruktuur soos die rioolwerke ingesluit, omdat Kombat nie ‘n munisipaliteit of plaaslike owerheid het wat dié dienste lewer nie.

In 2018 het Grove Mining nog ‘n gebou met vyf kamers opgeknap en vir die ministerie aangebied om as kliniek te gebruik. Die huur het N$50 000 per maand gebly.

“Die kliniek het sedertdien na dié gebou verhuis. Tans het die Kombat-kliniek vyf personeellede in diens en een geregistreerde verpleegster, een ingeskrewe verpleegster, twee gesondheidsassistente en een skoonmaker,” het hy gesê.

Volgens Nangombe bied die kliniek dienste soos nageboortesorg, voorkomende dienste soos immunisering, sowel as die behandeling van geringe kwale aan. Sou hulpbronne dit toelaat, sal ‘n bykomende twee geregistreerde verpleegsters by die kliniek ontplooi word.

Nangombe sê grond is by Neu Sommerau, ‘n hervestigingsplaas van die regering aangrensend tot Kombat, beskikbaar gestel waar die ministerie beplan om sy eie mediese geriewe op te rig.

Hy het erken hoewel die huidige toestande nie ideaal is nie, is die ministerie deur die gebrek aan eie geriewe op die dorp beperk.

“Binne die beperkte omgewing doen ons die beste wat ons kan om te verseker gesondheidsdienste is vir inwoners van Kombat beskikbaar. Om enigiets meer te doen, sal uiters onverantwoordelik wees.”

Nangombe het ‘n beroep op lede van die publiek gedoen om hulle daarvan te weerhou om onbevestigde inligting op sosialemediaplatforms te versprei.

Dit sluit ‘n foto van die kliniek in, wat inwoners volgens hom ontmoedig om openbare gesondheidsdienste te besoek.

“Dit het ‘n langtermyn-uitwerking op die nasie se gesondheid,” het Nangombe gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-07-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer