Formule E: Tydgees of era?

Al meer vervaardigers skuif oor na die nuwe Formule E-reeks.
Braam Peens - Op 18 Junie 2016 het die Amerikaanse akteur Brad Pitt die Franse Tricolore in die noordweste van Frankryk by die Circuit de la Sarthe geswaai om die 84ste Le Mans-uithouren af te skop. In die volgende 24 uur het die Toyota TS050's hul opponente in die LMP1-klas vir hibriede motors – die Porsche 919's en Audi R18's – stelselmatig oorheers totdat die voorloper-Toyota vier minute voor die einde van die ren met enjinprobleme gaan staan en die sege aan Porsche oorhandig het.

Vanjaar het Porsche wéér 'n Le Mans-wen van Toyota geërf. Dit was die Stuttgarters se 19de algehele sege van die wêreld se bekendste uithouren – ­sekerlik 'n onoortrefbare rekord.

As Pitt en Angelina Jolie ­Hollywood-adel is, dan het ­Porsche die onbetwisbare god van Le Mans geword. Spoed se eie sprokies­verhaal.

Te goed om waar te wees? Gewis.

Soos 'n sluimerende karakterfout het die tatoe op Jolie se maag – quod me nutrit me destruit (dít wat my voed sal my ook vernietig) – korrek voorspel dat Porsche hom aan die Wêrelduithoureeks (WEC) gaan onttrek. Van 2019 af gaan hy aan die Formule E-reeks vir elektriese motors deelneem.



Hoe het goud sy glans ­verloor?

Porsche se klemverskuiwing spruit uit 'n produkgerigte toekomsvisie eerder as uit die nostalgie van motorsportgeesdriftiges wat ­hunker na die legendariese 917, 956 en 962.

Met Porsche se hertoetrede tot die WEC-reeks in 2014 was die uitsluitlike doel om Audi te klop. Dít het Porsche in 2015 en 2016 reggekry. Niks bly oor om te bewys nie.

Verder was hy gefrustreerd met die beheerliggaam se onvermoë om nuwe toetreders na die sport te lok, wat afgeskrik is deur die hoë koste van deelname.

Nadat Audi die WEC-reeks in 2016 vaarwel toegeroep het ('n weerligafleier vir die druk waaronder die VW-groep verkeer het ná die dieselskandaal), het net Toyota oorgebly.

In 2015 was daar 11 deelnemers in die LMP1-klas, vanjaar vyf.

Terwyl Porsche aanvanklik die ergste negatiwiteit rondom die d-woord kon vryspring, is hy onlangs wel betrek omdat die Cayenne-sportnuts Audi se drieliterturbodiesel benut.

Dit het dus onafwendbaar geraak dat al meer lede van die Volkswagen-familie (Porsche inkluis) die beursie sal moet skud om die moedermaat­skappy se boetedoeningslas rondom die dieselskandaal te help verlig – tans geraam op enigiets tussen N$635 miljard en N$795 miljard.

Noodgedwonge is Porsche se deelname aan LMP1 ook peperduur. In die breë beskou, was waarde vir geld – 'n relatiewe begrip in motorsport – 'n verdere oorweging vir die lonendste motorhandelsmerk ter wêreld om hom aan uithourenne te onttrek.

Die Porsche 919 se tweeliter-V4-turbo ontwikkel 372 kW, terwyl twee elektriese motors 'n bykomende 300 kW aan die voorwiele lewer. Kennelik word bedenk­like bedrae ontwikkelingsgeld vereis as jy renmotors wil bou wat meer gesofistikeerd as hul F1-eweknieë is en 24 uur lank teen 'n gemiddelde spoed van 250 km/h moet kan jaag. Verder moet hy 'n voorgeskrewe maksimum hoeveelheid brandstof per ronde gebruik.

Die enigste korporatiewe regverdiging van sulke skynbaar ­sinnelose jaende spandabelheid is die uitgangspunt dat 'n maatskappy se motorsportstrategie moet strook met, maar ondergeskik moet wees aan, sy produkstrategie.

Dít, en die feit dat al meer Europese lande 2040 as die afsnyjaar teiken vir die verkoop van motors met 'n binnebrandenjin, noop vervaardigers toe­nemend om op suiwer elektriese aandrywing te fokus.

Hibriedetegnologie is, of was, ten beste 'n tussenganger tussen binnebrandenjin- en elektries ­gedrewe motors, maar wetgewing het dit helaas tot beperkte waarde gereduseer – op die renbaan én op die pad.



Melkkarretjies uit die ou dae

Formule E is tans die enigste FIA-geakkrediteerde elektriese renreeks. Dis nog redelik goedkoop (minder as 'n tiende van 'n WEC-seisoen); sy is honger, sy is bloedjonk en sy het oornag baie sexy geword vir vervaardigers wat haar wil gebruik om hul battery- en elektriese dryftegnologie te ontwikkel.

In dieselfde week waarin die ­Porsche-bom gebars het, het Mercedes-Benz ewe onverwags aangekondig dat hy aan die einde van 2018 sy betrokkenheid in die Duitse Toermotor-reeks (DTM) gaan beëindig. Hy gaan ook voortaan op Formule E konsentreer (sy F1-program oorleef darem nog).

Dié twee Stuttgartse bure sluit hulle by Audi, BMW, ­Jaguar, Mahindra, Citroën, ­Renault en 'n paar ander aan.

Formule E is 'n reeks met beperkte aanhang onder tradisionele geesdriftiges. Dis volksvreemd en ongeloofwaardig omdat die motors soos daardie melkkarretjies uit die ou dae klink, elke jaer gedurende die ren in 'n tweede motor moet spring omdat sy eerste een se battery pap is, en TV-gehore sosiale media kan gebruik om meer enjinkrag aan hul gunstelingbestuurder se motor te “stuur”.

Bisar, maar in die afwesigheid van alternatiewe blyk dit die toekoms te wees.

En 'n waarskuwing oor die gevolge van beheerliggame se voortdurende aandrang dat die tegnologie daarin vervat relevant tot gesins­motors moet wees.



Luister enigiemand?

Die onbedoelde nadraai van die ­Porsche-sage is dat die LMP1-klas in sy huidige vorm tot niet is omdat net Toyota, wat hom tot 2019 verbind het, oorbly. Seëvier Toyota oplaas in 2018, is dit die leegste van oorwinnings; fouteer hy, sal die verleentheid onbeskryflik wees: Dis 'n verloorstryd in enige rigting.

Porsche het die ondenkbare van 'n niebestaande premierklas by Le Mans oornag 'n werklikheid gemaak – minstens totdat 'n meer lewensvatbare en aantreklike alternatief vir vervaardigers in sy plek heringestel word.

Die enigste geluk by die ongeluk is dat ons kinders die vrugte van doeltreffende batterytegnologie in toekomsmotors gaan pluk. En ons eendag daarvoor gaan bedank.

Soms moet jy een tree agteruit gee om twee vorentoe te kan gee. Dat Angie nou sulke wyshede ronddra.

-Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer