Forensies kniehalter strafverhore
Die Namibiese polisie se Instituut vir Forensiese Wetenskap het gister bekend gemaak dat minstens sowat N$90 miljoen nodig is om die agterstand in DNS-toetsuitslae in te haal.
Kristien Kruger
Komm. Nelius Becker, die hoof van die Namibiese polisie se Instituut vir Forensiese Wetenskap (NPSFI), sê finansiering word benodig om die geweldige agterstand in DNS-toetsuitslae in te haal aangesien die regering se begroting nie dié uitgawe dek nie.
Volgens Becker is daar tans 4 300 hofsake wat op DNS-uitslae wag.
Becker het gister gesê die agterstand kan slegs ingehaal word indien die NPSFI jaarliks tussen sowat N$30 en N$36 miljoen ontvang. Dit sal volgens hom drie jaar neem om die agterstand in te haal en sal ongeveer N$90 miljoen kos.
“Daardie fondse is slegs om die agterstand in te haal. ’n Bykomende N$10 miljoen sal benodig word vir nuwe sake wat daagliks bykom,” het Becker gesê.
Lt.genl. Sebastian Ndeitunga, inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, het die kantoor van die aanklaer-generaal en die personeel van die NPSFI gister toegespreek oor die tekort aan fondse, toerusting en menslike hulpbronne by die instituut.
Die aanklaer Antonia Verhoef het namens die kantoor van die aanklaer-generaal gesê forensiese bewyse kan ’n belangrike hulpbron in hofsake wees.
“Dit beteken nie as ons nie forensiese bewyse het, ons nie ’n saak het nie. Ons gaan meestal voort sonder die resultate. Daar is egter baie sake wat koud loop waar forensiese bewyse ’n verskil in die hof kon gemaak het,” het sy gesê.
Volgens Becker is DNS baie duur. Dit maak 90% van die NPSFI se uitgawes uit en hy sê die regering se begroting is nie voldoende om dié kostes te dek nie.
“Ons moet ander bronne vir finansiering en ’n aparte begroting vir DNS kry.”
TOERUSTING BUITE WERKING
Becker het ook bekend gemaak die instituut het ’n ballistiese agterstand van sowat 500 gevalle en ’n agterstand in toksikologie van 1 700.
Die toksikologie-toerusting is vanaf 2018 buite werking. Becker het gesê ’n duur onderdeel word benodig wat reeds aangekoop is, maar hul wag glo vir ’n tegnikus uit Suid-Afrika om dit te installeer.
“Sodra die onderdeel geïnstalleer is, sal die agterstand vinnig ingehaal kan word,” het Becker gesê.
Die NPSFI ervaar tans geen agterstande in bloedalkoholtoetse en dwelmtoetse nie.
TOERUSTING EN BEGROTING
Volgens dr. Paul Ludick, direkteur van die NPSFI, is sommige van die instituut se toerusting ongeveer 25 jaar oud en moet nou vervang word.
“Die toerusting se raklewe het verval. Dit is so oud dat dit nie met die instituut se moderne tegnologie kan verbind nie. Sommige werk nog met Windows 98.”
Ndeitunga het voorgestel ’n gespesifiseerde begrotingsplan moet opgestel word wat al die benodighede insluit. Volgens Becker het die NPSFI verlede jaar sowat N$25 miljoen benodig en dit vir die begroting ingedien, maar nie naastenby daardie bedrag ontvang nie.
“Daardie bedrag wat ons ingedien het vir die begroting het nie eens al die toerusting ingesluit wat vervang moet word nie,” het Becker gesê.
Volgens Ludick sal dit sowat N$198 miljoen kos om die ou toerusting te vervang en die nodige toerusting aan te koop.
MENSLIKE HULPBRONNE
Volgens Becker het die instituut tans 28 wetenskaplikes in diens en is hulle gedurig besig om mense op te lei en jongmense te werf om in die rigting te studeer.
Ndeitunga het gister sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan ’n opvolgplan vir die dag wanneer Ludick aftree.
“Dit is belangrik wanneer dr. Ludick aftree, dat daar mense is wat sy skoene kan volstaan. Wanneer ons werk nie op standaard is nie, het dit ’n impak op die regstelsel en geregtigheid. Ons moet ook onthou – geregtigheid wat uitgestel word, is geregtigheid ontsê,” het hy gesê.
Namibië het in die verlede DNS-monsters na Suid-Afrika en Kanada gestuur vir ontleding, maar doen vir ’n geruime tyd self al die toetse.
Die NPSFI se nuutgeboude, moderne fasiliteite is verlede jaar geopen. Die konstruksie daarvan het N$347 miljoen beloop.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie