Fondse melk regering
Fondse melk regering

Fondse melk regering

Vrae word gevra oor die waarde van onafhanklike entiteite wat binne ministeries op die lewe geroep word.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Lede van die parlement se staande komitee op openbare rekeninge het verlede week tydens verskeie openbare sessies vrae gevra oor die bestaan van fondse binne ministeries wat wettiglik as onafhanklike en aparte entiteite uitgeroep is.

“Die regering bestee geld aan instansies was nie sin maak nie,” het mnr. Mike Kavekotora, voorsitter van die komitee en Rally for Democracy and Progress(RDP)-parlementslid, gesê.

Hy het gesê dié fondse “melk” die regering, wat gevolglik ander maatskaplike programme moet inperk.

“Van die instellings is gestig om werksgeleenthede vir dié met goeie kontakte te skep.

“Als wat ons doen, het ’n impak op ons vermoë om iets anders te doen. Ons bestee geld aan instansies wat nie sin maak nie,” het hy gesê.

Verlede Donderdag is die rede vir die Diamantwaarderingsfonds (DVF) se bestaan ook onder die loep geneem.

Die fonds is onder die Diamantwet van 1999 gestig as teenvoeter vir die koste van die waardering van ongepoleerde diamante.

Die fonds se inkomste kom meestal van uitvoerbelasting op ongepoleerde diamante.

Die fonds funksioneer as ’n afsonderlike entiteit binne die ministerie van myne en energie.

Dít laat parlementêre komiteelede die fonds se bestaan bevraagteken, aangesien hy sedert sy stigting nie oor bekwame werknemers beskik nie.

“Watter vaardighede is sedert die fonds se stigting aan hom toegeken, aangesien alles aan ander werknemers in die ministerie afgestaan word?” wou Kavekotora weet.

“Wat is die waarde in die stigting van die DVF? Aangesien die regering se hulpbronne beperk is, sou dit nie verstandiger wees om die fonds liewer as blote funksie in die ministerie hê nie?” het hy gevra.

Die parlementêre komiteelede het ook die rede vir die fonds se bestaan sedert die stigting van Namibia Desert Diamonds (Namdia) bevraagteken.

‘Betaal vir ander’

In 2017 het die DVF N$46,3 miljoen in opdrag van die tesourie aan Namdia toegeken. Die fonds moes ook sowat N$3 miljoen betaal vir die huur van kantore, wat deur Namdia gehuur word, asook sowat N$50 000 vir die geleentheid waartydens Namdia se verkoop- en bemarkingskontrak onderteken is.

Hoewel Namdia gevestig is om diamante die waardeer, is dié funksie uitgekontrakteer aan C-Sixty Investments, waarvoor die DVF in 2017 sowat N$13 miljoen moes opdok.

In die 2017-boekjaar het die fonds ook N$2,7 miljoen aan die African Diamond Producers Association betaal, ’n inter-regeringsorganisasie wat die invloed van Afrika se diamantproduserende lande op die wêreldmark bevorder.

Nog N$7,6 miljoen is aan Namgem Diamond Manufacturing Company vir private diamantsortering betaal.

Ongunstige ouditmening

Die fonds het ’n ongunstige ouditmening vir die finansiële boekjaar gekry wat in Desember 2017 verstryk.

Dít gedeeltelik weens N$1,9 miljoen se onderverklaring van debiteure en omdat geen ondersteunende dokumente vir N$105 669 se reis- en verblyfuitgawes verskaf is nie.

Me. Maria Moses, die fonds se administrasiehoof, sê die ministerie het sy eie ontleding van die skuld aan debiteure gedoen en bevind dit beloop in werklikheid N$10,7 miljoen.

Dit is so in die hersiene geouditeerde finansiële staat aangedui.

Dié verskil skryf sy toe aan die “foutiewe” inbetaling van die geld, wat aan die DVF behoort, in die Diamantraad se rekening.

Terselfdertyd was die verouderde boekhoustelsel wat die fonds tot onlangs gebruik het hiervoor verantwoordelik, het sy gesê.

Volgens Moses het die bank ’n bedrag van N$105 668 as “verskeie betalings” verwerk, maar dié transaksie is sedertdien omgekeer omdat geen betaalbewyse daarvoor bestaan nie.

Sy het gesê die regte bedrag, naamlik N$105 940, is sedertdien in die regte rekeninge betaal.

Kapasiteitstekort

Moses sê die DVF is van plan om stappe te doen om sy kapasiteitstekort aan te spreek deur sy verouderde boekhoustelsel met die gerekenariseerde Pastel-stelsel te vervang.

As ’n tydelike maatreël maak die DVF van die Diamantraad se vaardighede gebruik om sy stelsels “op te ruim”.

“Ons grootste uitdaging is dat die struktuur nie baie duidelik is nie. Die fonds se struktuur word binne die direktoraat van diamantsake bestuur, wat geen rekenmeesters het nie,” het Moses gesê.

Volgens die diamantwet is die uitvoerende direkteur van myne en energie verantwoordelik vir die volle administrasie van die fonds.

Tog word ministeriële werknemers nie toegelaat om die DVF se boeke te oudit nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer