• Tuisblad
  • Sake
  • FNB Namibia: Groen lig vir EBank, Pointbreak
FNB Namibia: Groen lig vir EBank, Pointbreak
FNB Namibia: Groen lig vir EBank, Pointbreak

FNB Namibia: Groen lig vir EBank, Pointbreak

Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy - Sowat ses maande nadat FNB Namibia Holdings amptelik na EBank en Pointbreak begin vry het, word 100% van beide die twee maatskappye aan die einde van vandeesmaand deel van dié finansiële reus.

Dit volg nadat die Bank of Namibia (BoN), die Namibiese Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings (Namfisa), die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC) en die Suid-Afrikaanse Reserwebank die transaksie goedgekeur het.

“Ons is baie bly die mark sien die potensiaal van dié verkryging as voordelig vir Namibië,” het Sarel van Zyl, uitvoerende hoof van FNB Namibia, Vrydag in 'n gesamentlike verklaring van alle partye gesê.

“Ons is vol vertroue dat dié transaksie ons in staat sal stel om ons welvaart- en beleggingsbestuurprodukte selfs verder te verbreed,” het Josephat Mwatotele, uitvoerende hoof van Pointbreak, gesê.

Pointbreak is 'n Namibiese finansiële groep wat beleggings- en welvaartbestuursdienste aan die private, korporatiewe en institusio­nele mark lewer.

Dié maatskappy bestuur derdepartykapitaal van meer as N$8,5 miljard. Pointbreak het 'n minderheidsaandeelhouding in Stimulus Investments Ltd, wat 100% van Namibia Media Holdings (NMH) besit. NMH is die beheermaat­skappy van onder meer Republikein, Namibian Sun, Allgemeine Zeitung en Newsprint Namibia.

FNB Namibia Holdings is op die plaaslike indeks van die Namibiese aandelebeurs (NSX) genoteer. Met 'n totale markkapitalisasie van N$12,673 miljard is dit die grootste maatskappy op dié indeks. FNB Namibia het Vrydag op N$47,36 per aandeel gesluit, dieselfde as die vorige week.

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer