Fitch baie negatief ná skommeling
'n Kredietafgradering - wat die rand verder sal laat verswak - kan so gou as 7 April plaasvind, reken sommige ontleders.
Hanlie Stadler - Pres. Jacob Zuma se kabinetskommeling laat die gevaarligte flikker, het die kredietgradeerder Fitch Ratings in 'n verklaring gesê.
“Dit dui op 'n verandering van beleidsrigting en sal politieke spanning binne die ANC en sy tradisionele alliansievennote verhoog, wat potensieel die staat se geldsake en regeringstandaarde sal verswak,” sê Jan Friederich, 'n senior direkteur van soewereine graderings by Fitch.
“Die president het aangekondig dat die nuwe kabinet . . . 'n radikale maatskaplik-ekonomiese transformasie sal bevorder. In sy Februarie-staatsrede het hy gesê dit sal veranderinge in die 'struktuur, stelsels, instellings en patrone van eienaarskap, bestuur en beheer van die ekonomie ten gunste van alle Suid-Afrikaners, veral die armes' behels.
“Ons glo dat fiskale konsolidasie nou minder van 'n prioriteit sal wees en die beweging om deursigtigheid en beheer oor staatsondernemings te verbeter, sal gestaak word.”
Diep bekommerd
Fitch en ander kredietgradeerders is diep bekommerd oor die staatswaarborge wat die regering vir onder meer die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Eskom en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) bied.
Fitch is ook diep bekommerd dat die plan vir nuwe kernkragstasies, wat in Februarie tot 2037 uitgestel is, omgekeer gaan word.
Die kabinetskommeling sal politieke onstabiliteit verhoog in die aanloop tot die ANC se beleidskonferensie in Junie en die leierskapstryd in Desember. Fitch verwag dat die ANC-faksie wat nou verswak is, sal terugbaklei en die uitdagings van die president se gesag kan meer openlik word.
“Die politieke agtergrond verhoog die risiko dat die regering na duur uitgawes of wetgewing sal gryp om sy steun te stabiliseer, wat dan ekonomiese groei sal verswak.”
Fitch het Suid-Afrika se gradering in Desember onveranderd gelaat, maar die vooruitsig daarvoor van stabiel na negatief verander. Ook Moody's Investors Service en Standard & Poor's Global Ratings (S&P) het 'n negatiewe vooruitsig vir die land se staatskuld.
Wat staatskuld in buitelandse geldeenhede betref, is Suid-Afrika op die rand van rommelstatus by Fitch en S&P.
Wat staatskuld in rand betref, is Suid-Afrika net by Fitch op die rand van rommelstatus.
Rommelstatus beteken dat buitelandse pensioenfondse, wat enorme bedrae wêreldwyd belê, nie meer in Suid-Afrikaanse staatskuld mag belê nie. Dit sal miljarde landuit laat beweeg en sal ook die opbrengskoers wat Suid-Afrika aan beleggers moet bied, laat styg, wat beteken die regering sal meer van sy inkomste aan rente moet toewys.
Fitch wys ook op nog twee risikofaktore benewens politiek: as die land se skuld-tot-BBP-koers verswak en as die ekonomie nie begin herstel van die 0,3%-groei van 2016 nie.
Moody's en S&P het nog nie op die kabinetskommeling gereageer nie.
Telekonferensie
Malusi Gigaba, Suid-Afrika se nuwe minister van finansies, het Vrydagmiddag 'n telekonferensie met kredietgraderingsagentskappe gehou om hulle “versekeringe oor die toekoms” te gee.
'n Kredietafgradering - wat die rand verder sal laat verswak - kan so gou as 7 April plaasvind, reken sommige ontleders.
'n Verklaring wat die tesourie uitgereik het, sê die aangewese minister het ook met Lungisa Fuzile, die ervare direkteur-generaal, en ander lede van die tesourie se uitvoerende komitee vergader. “Hy is ingelig oor die belangrikste en dringendste vraagstukke.”
Gordhan
Pravin Gordhan, wat pas as minister van finansies afgedank is, het vroeër Vrydag op 'n nuuskonferensie gesê hy het Gigaba gelukgewens met sy aanstelling en sal met hom saamwerk om die oorgang te vergemaklik.
Vrydag was Gordhan en sy adjunk, Mcebisi Jonas, se laaste dag op kantoor. Personeel het vir hulle gesing toe hulle die tesourie se gebou in Pretoria ingekom het.
Gordhan was in Londen vir gesprekke met die kredietgradeerders Moody's Investors Service, Standard & Poor's Global Ratings en Fitch Ratings toe hy Maandag ingelig is hy moet 'n dag vroeër as beplan terugkeer Suid-Afrika toe.
Gordhan het Vrydag gesê hy kon al sy beplande vergaderings inpas behalwe dié met Fitch, maar dat hy 'n telekonferensie met dié agentskap gehou het.
Hy en Jonas was onder die ministers en adjunkte wat hul pos kwyt is in pres. Jacob Zuma se omvattende kabinetskommeling Donderdagnag. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie