Fishrot-twee se stryd om borg duur voort
Mnre. Bernard Esau en Tamson Hatuikulipi sal volgende maand hoor of hul appèlaansoek om borgtog suksesvol was.
Kristien Kruger – Die Fishrot-beskuldigdes mnre. Bernard Esau (63) en Tamson “Fitty” Hatuikulipi (39) sal op 26 Februarie uitvind of hul appèlaansoek teen landdros Duard Kesslau se beslissing om hul borgtogaansoek van die hand te wys, suksesvol was.
Dié saak is reeds ses maande hangend en is sowat drie keer uitgestel.
Die appèlverhoor het Maandag in die hoërhof gedien en regters Marlene Tommasi en Herman January sal volgende maand uitspraak lewer. Indien hul aansoek toegestaan word, sal hulle op borgtog vrygelaat word.
Volgens die oudminister van visserye en mariene hulpbronne en sy skoonseun se regsverteenwoordigers, mnre. Richard Metcalfe en Florian Beukes, is hul vrylating op borg nie teen openbare belang of belang van geregtigheid nie.
“Daar is geen bewyse dat my kliënte 'n bedreiging vir enige persoon of lid van die publiek is nie,” het Metcalfe tydens Maandag se hofverrigtinge gesê.
Metcalfe het benadruk dat sy kliënte eerste oortreders is, geen geskiedenis van geweld het nie en dat daar geen bewyse is wat aandui dat hulle by die ondersoek sal inmeng nie.
Hy het verder uitgewys belangrike onderskeid moet getref word tussen openbare belang en die publiek se verwagting.
“Hierdie saak het baie aandag van die publiek ontvang, maar dit is
belangrik dat die publiek se opinie nie die hof se besluit beïnvloed
nie.
“Die beskuldigdes is steeds onskuldig tot anders bewys en het die reg tot 'n regverdige verhoor. Hulle kan hierdie tyd gebruik om hulpbronne beskikbaar te maak en met regsverteenwoordigers te ontmoet ter voorbereiding vir die verhoor,” het Metcalfe gesê.
Staatsaanklaer Hesekiel Iipinge beweer die staat het genoeg bewyse vir 'n sterk saak teen die beskuldigdes.
“Hulle kan nie hul betrokkenheid in die Fishrot-skandaal ontken nie. Ons kan onder meer bewys dat Hatuikulipi N$16 miljoen ontvang het,” het hy gesê.
Hierop het Metcalfe gesê die staat wil aan die beskuldigdes 'n voorafbepaalde straf toedien en dat dit nie volgens die wet toelaatbaar is nie.
“Ek sê nie dat dit nie 'n ernstige oortreding is nie, want dit is. Ek sê eenvoudig dat die vrylating van my kliënte geen bedreiging vir die gemeenskap inhou nie,” het Metcalfe gesê.
STAAT SE BESWARE
Esau en Hatuikulipi se verteenwoordigers het 'n aansoek om kwytskelding by die hof ingedien, aangesien die staat nie betyds 'n beantwoordende beëdigde verklaring verskaf het nie.
Die staat het Esau en Hatuikulipi se appèlaansoek onder 'n vergrootglas geplaas.
Ipinge beweer sommige beweringe, soos uiteengesit in hul aansoek, is onduidelik en vaag en die aansoek moet van die hand gewys word.
“Een of twee is dalk duidelik, maar 16 ander is nie. Hoe kan so 'n aansoek aanvaar word?” het Ipinge gevra.
Toe die hof ná middagtyd hervat het, het die regters beslis die staat was gedeeltelik suksesvol in sy argument en sommige paragrawe van die aansoek word van die hand gewys, omdat dit nie “spesifiek en duidelik” genoeg is nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie