Fikses doen hul ding in buiteland

Fietsry, triathlon
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Namibië se bergfietsryers en driekampatlete het die naweek in afsonderlike byeenkomste gewys wat in hul steek.
By die 70.3 Ysterman-wêreldkampioenskap in Port Elizabeth was Jean-Paul Burger algeheel 22ste van die mans (3 ure 58 minute 41 sekondes) – die beste van enigiemand wat nie ten volle professioneel is nie en klaswenner van die mans 18-24 jaar.
Adelé de la Rey het in die voorste kwart van die kompetisie geëindig toe sy algeheel 315de klaargemaak het uit die 1 345 vroue by die beginstreep.
Uit die 202 vroue in haar ouderdomsklas (40-44 jaar) is sy in die 44ste plek geplaas. Haar eindtyd was vyf ure 22 minute 57 sekondes.
Nog een van Namibië se ouer manne, Paddy Murphy van Windhoek, was in sy ouderdomsklas vir mans tussen 55 en 59 jaar 31ste uit 166 deelnemers.
Die Swakopmunder Tyrone Kotze was ook in ’n heel respektabele 81ste uit 386 in sy ouderdomsklas (mans 35-39 jaar) in vier ure 32 minute 42 sekondes klaargemaak. Benita Kasch was 101ste van die vroue 30-34 jaar en Sebastian Pahl was 162ste van die mans 25-29 jaar.
Nodeloos om te sê is die 70.3 Ysterman se afstande nie sommer vir enig¬iemand bedoel nie, naamlik 1.9 km swem en 90 km fietsry voordat die drafskoene vasgeknoop word vir ’n halfmarathon van 21.1 km.


BERGFIETSRYERS
Die Namibiese elite-ryers is in die finale stadiums van hul voorbereiding op die komende wêreldkampioenskap in Lenzerheide, Switserland.

Gister het Alex Miller saam met talle mededingers in die junior mansafdeling aan die Bike festival in Basel, Switserland deelgeneem, insluitend die Europese kampioen en gunsteling van die tuisskare, Alexandre Balmer.

Miller is kort ná die wegspring op ’n draai in ’n bondel vasgevang en het hom dus vroeg in die 30ste posisie bevind, maar het stelselmatig teruggeveg om uiteindelik in die 13de plek klaar te maak.

Miller sal by die komende wêreldkampioenskap die Namibiese span tesame met Tristan de Lange, Till Drobisch en Michelle Vorster verteenwoordig.

• Naby Springbok in die Noord-Kaap het die deurwinterde Namibiër Piet Swiegers van Aus as algehele wenner van die Namaqua Quest driedaagse skofresies klaargemaak.

“Dit was nie juis ’n geweldige kompeterende byeenkoms nie, maar ek is in my noppies,” het die 50-jarige Swiegers gister gesê.

Hy het die eerste dag se skof van 68 kilometer met ’n voorsprong van sowat sewe minute gewen. Op dag twee (50 km) het hy derde klaargemaak, maar net twee sekondes ná die skofwenner, voordat hy die finale skof van 52 km weer met nege minute voor sy laaste teenstander afgesluit het.

Kommentaar

Republikein 2026-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer