Federer onttrek hom aan Spele
Federer onttrek hom aan Spele

Federer onttrek hom aan Spele

Tennis
Roger Federer het wéér knieprobleme. Die Switserse tennisspeler het hom gister aan die Olimpiese Spele onttrek.

Hy sê hy het gedurende die grasbaanseisoen weer 'n kniebesering opgedoen.

Die tennistoernooi by die Spele is reeds 'n paar sterre kwyt soos Nick Kyrgios, Rafael Nadal, Dominic Thiem, Stan Wawrinka, Simona Halep en Serena Williams, wat om verskillende redes nié in Tokio gaan afslaan nie.

Federer, wat volgende maand 40 word, het in 2020 twee knieoperasies ondergaan en meer as 'n jaar se rehabilitasie het daarop gevolg.

Hy het hom ná sy derderonde-wedstryd in die Franse Ope onttrek om sy liggaam vir die grasbaanseisoen te spaar. Hy is egter in die kwarteindronde uitgeskakel.

“Ek het ongelukkig tydens die grasbaanseisoen 'n terugslag met my knie ondervind en het nou aanvaar dat ek my moet onttrek aan die Spele,” het Federer op Twitter gesê.

“Ek is baie teleurgesteld, want dit was elke keer 'n eer en hoogtepunt van my loopbaan om Switserland te verteenwoordig.

“Ek het reeds met rehabilitasie begin in 'n poging om later vanjaar weer te kan speel. Ek wens die Switserse span sterkte toe.”

Federer het in 2008 in Beijing die goue medalje in die mansdubbelspel gewen en 'n silwermedalje in die enkelspel vier jaar later in Londen.

– Reuters, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer