Families soek antwoorde op 'hek van hel'

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Ek haat ook daai hek. Seerste seer Desember deurgegaan met die heengaan van ons suster. Dit is die hek van seer, wag vir nuus wat jou breek en verskeur in stukke.

Republikein is gister oorval deur kommentaar van lesers wat hul ervaring gedeel het na aanleiding van die berig oor die “hek van pyn” waar familielede by die Katutura-hospitaal vir ’n uur per dag moet wag oor enige nuus oor geliefdes wat in die hospitaal se Covid-19-eenheid behandel word.

Intussen is 'n rekord van 24 sterftes wat met die virus verbind word gister op een dag aangekondig. Dit stoot sterftes in Mei op tot 188, teen 'n gemiddeld van ses persone per dag. Die 26ste Mei, met 13 sterftes op een dag, is nou die dodelikste dag sedert die pandemie begin het.

Navrae vir kommentaar aan die hospitaal se superintendent, dr. Nelago Amagulu, is weer nie beantwoord nie. Mnr. Joshua Ihuhwe, kliëntesorgbeampte, wou hom ook nie oor die situasie by die Covid-eenheid uitlaat nie en het ook navrae na Amagulu verwys. Amagulu se selfoon was af.

Jessica le Roux wie se Facebook-plasing oor die gebrek aan ondersteuning en hulp by die hospitaal, het ook laat weet haar 89-jarige ouma wat in die eenheid opgeneem is, is gister oorlede.

“Dis geen hek van pyn nie, maar ’n hek van hel,” het Audrey Martin in ’n brief laat weet, vyf maande nadat sy haar ma verloor het.

“My ma is soontoe gestuur vir ’n toets wat nooit gedoen is nie en het Covid hier opgedoen,” sê Martin.

Volgens haar het haar ma wat ’n diabeet was, op 19 Desember verlede jaar baie siek geword. Sy is aanvanklik by die mediese sentrum op Okahandja behandel totdat sy sterk genoeg was om per ambulans na Windhoek vervoer te word. Omdat sy ook asemhalingsprobleme ervaar het, het ’n dokter versoek dat sy eers vir ’n Covid-19-toets na die Covid-eenheid by die Katutura-hospitaal gaan.

“Ek moes my ma by die hek los. Die plek stink van al die gebruikte toerusting wat een kant in 'n hoek op 'n hoop lê. Nie baie higiënies vir ’n hospitaal met baie siek mense en ’n dodelike virus nie,” sê Martin.

By die hek is ’n nommer wat geskakel kan word en die familie kan tussen 15:00 en 16:00 ’n pakkie vir haar ma los.

Daar is egter geen antwoord by die nommer toe Martin dit die Saterdagaand bel om oor haar ma se toestand te verneem en of dit Covid-toets al wel gedoen is sodat haar familie haar “daar kan uitkry” nie. Navrae by die dokter wat haar op Okahandja behandel het, bevestig egter Martin se ma se suikertelling daal steeds en haar asemhaling is normaal. Die dokter dring volgens Martin weer op ’n Covid-toets vir “dringende aandag” aan.

“Ons is bly en hoopvol, want my ma is volgens die dokter sommer stukke beter.”

Op 20 Desember om 15:50 ontvang Martin egter ’n oproep van die dokter wat sê haar ma het aan ’n hartaanval gesterf en hulle kon haar nie bybring nie.

“Vanoggend was sy aan die herstel, ’n paar ure later is sy weg.”

Die doodsoorsaak op haar mediese sertifikaat word as “longontsteking” en “Covid-verwant” aangedui, “alles behalwe diabetes of ’n hartaanval”.

“Ons wou weet waar is die toetsuitslae, want dan moes ons almal ons mos laat toets.”

Deur kontakte kon die familie uitvind geen van die twee Covid-toetse is ooit gedoen nie en die enigste een is ná haar ma se dood uitgevoer.

“Die dokter wat die mediese sertifikaat geskryf het, het gesê sy is aangesê om dit so te skryf, want sy help net uit omdat die personeel by die eenheid oorwerk en besig is.”

In ’n bisarre nadraai ná Martin se ma se dood ontvang die familie ’n oproep van die Covid-sentrum om te laat weet hulle moet ’n ambulans reël om haar te kom haal, omdat sy na ’n private hospitaal wil gaan.

“Dit was ’n heel vreemde naam. Hoe is dit moontlik dat ons besonderhede op iemand anders se bedkaart of op die rekenaar beland het? Het families wat geliefdes aan Covid afgestaan het regtig hul ‘regte’ geliefdes begrawe siende dat daar 'sekere reëls' was?”

Sy wonder tot vandag wat regtig met haar ma gebeur het, sê Martin.

“Ons wag nog steeds vir antwoorde. Hoeveel families is al deur trauma gesit deur die ministerie se nalatigheid en onbevoegdheid? Wat hulle doen is oneties en moet van die rol geskrap word.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer