Families getraumatiseer ná verkeerde liggaam begrawe word

14 January 2022 | Mense
Adam Hartman op Swakopmund – Twee families in rou is verder getraumatiseer nadat hul geliefdes se liggame per ongeluk omgeruil is – klaarblyklik by die Swakopmund-distrikshospitaal – en die verkeerde liggaam die afgelope week begrawe is.

Me. Magrietha Nanubes is op 4 Januarie op Swakopmund dood. Volgens ’n nabye familielid sou die oorledene komende Saterdag op ’n plaas in die Fransfontein-distrik begrawe word.

Nanubes se liggaam is egter verkeerdelik verlede Vrydag in die Swakopmund-begraafplaas begrawe onder die indruk dat dit dié van ’n ander vrou was.

Volgens die familielid was reëlings aan die gang dat Nanubes se liggaam na Fransfontein gebring sou word vir die roudiens en begrafnis. “My familie is na die [Swakopmund] hospitaal om haar liggaam vir die begrafnis voor te berei, maar hulle kon haar nêrens kry nie. Niemand het geweet waar sy was nie.”

Die familielid sê dit het later uitgekom dat ’n ander vrou se lyk, wat eintlik veronderstel was om reeds begrawe te wees, steeds by die lykshuis was, en dis tóé dat hulle besef het Nanubes is per ongeluk in die ander vrou se plek begrawe.

Nanubes se familie het ’n aansoek ingedien vir ’n hofbevel om hul geliefde op te grawe, wat toegestaan is.

Sersant Anna Frans, die Erongostreek se polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie was betrokke by die aansoekproses en het amptenare van die ministerie van gesondheid vergesel vir die opgrawing, wat verlede Donderdag plaasgevind het.

“Ons was natuurlik siek van trauma toe ons hoor sy [Nanubes] is weg. Hoe is dit moontlik? Ons is steeds in rou en het verwag haar liggaam sou na Fransfontein kom sodat ons afskeid kan neem. Sy was in die lykshuis, gereed om na ons toe te kom, en toe word aan ons gesê sy is weg – en in iemand anders se plek begrawe” het die familielid gesê.

“Dit was aaklig. Ons is net bly sy is nou terug, en ons sal voortgaan met die reëlings.”

Die familielid het empatie gehad met die ander familie, wat ook moes hoor die liggaam wat begrawe is, was nie dié van hul geliefde nie. Die skuld is vierkantig op die hospitaal gepak, met vingers wat ook na Nambob wys, wat na bewering vir die ander gesin se begrafnisreëlings verantwoordelik was.

“Hierdie mense was veronderstel om die liggaam te identifiseer voordat hulle dit vir die begrafnis verwyder het. Dit was klaarblyklik nalatigheid aan hul kant,” het die familielid gekap. “Ons en die ander familie rou, en dan gebeur hierdie onsensitiewe, onverantwoordelike ding. Hulle sal moet verduidelik hoe dit gebeur het.”

Ons susterpublikasie Erongo 24/7 het navrae aan Nambob gerig, wat nie kommentaar wou lewer voordat ’n behoorlike ondersoek afgehandel is nie.

Bronne in die begrafnisbedryf het gesê hoewel sulke voorvalle nie moet gebeur nie, veroorsaak die volume sterftes en regulasies wat met Covid-19 verband hou, deesdae meer druk in lykshuise in die algemeen, en daarom is dit moontlik dat foute kan inglip.

Erongo 24/7 kon geen kontakbesonderhede of inligting van die ander familie verkry nie en is meegedeel dat hulle nie geïdentifiseer wil word nie, aangesien dit die trauma waardeur hulle reeds gaan, net sal vererger.

Me. Anna Jonas, die gesondheidsdirekteur in die Erongostreek, het by navraag gesê: “Ek kan nie die saak met die media bespreek nie. Dis ’n saak tussen die hospitaal en die familie.”

[email protected]

Soortgelyk

 

22 sterftes, 346 nuwe gevalle

9 ure gelede | Gesondheid

Die Covid-sterftes het met 22 tot 3 783 gestyg. Vyf hiervan was tuissterftes in die Oshikoto-streek. Nie een van die sterfgevalle was ingeënt nie. Gister...

Trusted Travel System geld vanaf Saterdag

13 ure gelede | Toerisme

Die Trusted Travel System vir die koördinering en verifiëring van Covid-19-uitslae in lande deel van die Afrika Unie (AU) geld vanaf Saterdag (15 Januarie) in...

Huidige Covid-19-regulasies bly in plek

13 ure gelede | Gesondheid

President Hage Geingob sê die huidige Covid-19-regulasies wat die afgelope maand in plek was, geld steeds tot 15 Februarie. Dit is die volgende: 'n maksimum...

Byna 20 000 nuwe gevalle die afgelope maand

13 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, sê 19 846 nuwe Covid-19-gevalle is die afgelope maand in die land aangeteken. Hiervan was...

Inentingskoers bly laag

13 ure gelede | Gesondheid

President Hage Geingob sê huiwering om teen Covid-19 ingeënt te word, duur voort. Volgens die staatshoof het Zambezi die laagste koers en wel 6%, terwyl...

‘Reëngolwe wink’

1 dag gelede | Weer

Henriette Lamprecht – Baie swaar reën, met etlike reëngolwe wat in die tweede helfte van vandeesweek en tot volgende week uitgebreid na Namibië op pad...

Lisensie of nie, staatsvoertuie ry

1 dag gelede | Polisie

Adam Hartman op Swakopmund – Verkeersbeamptes in alle streke voer steeds ’n vroeër opdrag vanuit hul hoogste gesag uit om nie verkeerskaartjies aan regeringsvoertuie met...

FNB deel van geding om Fishrot-geld

1 dag gelede | Howe

Ogone Tlhage – First National Bank Namibia het bykomende dokumente by die hoërhof in Windhoek ingedien en hom daardeur by die grootste korrupsiesaak in die...

Weer vir 13 Januarie

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm oor die westelike helfte van die binneland, andersins gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm met 'n...