Facebook kry satelliet vir Afrika

Jo-Mare Duddy Booysen
Facebook gaan dié week ’n satelliet lanseer om internettoegang na landelike gebiede van Afrika suid van die Sahara uit te brei, het Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof, gesê.
Zuckerberg is op besoek aan Lagos, Nigerië, waar hy Woensdag gesê het die satelliet sal internetverbinding na verafgeleë landelike gebiede versprei.
“Ons het hierdie sonkrag-aangedrewe hommeltuie gebou wat basies soos ’n selfoontoring in die lug is. Hulle kan oor werklik afgeleë gebiede beweeg en internetkonneksie afstraal om seker te maak die ntewerke versprei en bereik almal.”
Die Amerikaanse sosialemedia-maatskappy het sy eerste kantoor in Afrika verlede jaar in Johannesburg geopen, en het ’n ooreenkoms met die Franse groep Eutelsat Communications gesluit om die satelliet te lanseer. Die stap is bedoel om meer mense in Afrika wat nie tans internettoegang het nie, in staat te stel om Facebook te gebruik.
Hoewel internet-via-satelliet gewoonlik ’n duur opsie in die ontwikkelende wêreld is, sê Zuckerberg hy beplan om die netwerk bekostigbaar te maak.
“Dit help nie veel as jy die infrastruktuur het as mense nie kan bekostig om dit te gebruik nie,” het hy tydens ’n lesing in Lagos gesê.
Facebook het teen einde Julie 84 miljoen gebruikersd in Afrika suid van die Sahara gehad, vergeleke met 1,7 miljard wêreldwyd. Om die struikelblokke soos die gebrek aan hoëspoed-internettoegang op die vasteland te oorkom, het die maatskappy produkte bekend gestel wat met stadiger internetverbindings kan werk, soos Facebook Lite. – Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2026-03-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer