Facebook gee nog ’n data-firma die trekpas
In ’n geval wat duidelike ooreenkomste toon met die sogenaamde Cambridge Analytica-skandaal, het Facebook nóg ’n maatskappy wat “ontledings” doen met gebruikers se data die deur gewys.
The Guardian berig Cubeyou, ’n New Yorkse maatskappy wat “vinnige, maklike en akkurate insig” in moontlike kliënte bied, is die jongste maatskappy wat Facebook uitgeskop het weens die manier waarop dit met gebruikers se data omgaan.
Cubeyou het glo gebruikers se data ingewin op ’n manier soortgelyk aan dié waarop Cambridge Analytica dit bekom het, naamlik deur hulle te vra om ’n verskeidenheid vasvra-speletjies in te vul. Sodra ’n gebruiker die speletjie speel, het hy Cubeyou se app toegang tot sy inligting gegee.
Cubeyou, wat die app in samewerking met die Universiteit van Cambridge ontwikkel het, het voorgegee die data wat ingesamel word, is vir “akademiese navorsing”. Dit was egter nie die geval nie, want die data is eintlik vir bemarkingsdoeleindes gebruik.
CNBC, wat eerste die nuus bekend gemaak het dat Cubeyou, nes Cambridge Analytica, gebruikers se data op ’n onvanpaste wyse gebruik het, voer aan dat nog maatskappye soortgelyke wandade kon pleeg onder die vaandel dat dit vir “akademiese navorsing” is.
Cubeyou ontken dat hy enigiets verkeerd gedoen het en sê hy het bloot die data verwerk en geïnterpreteer.
Op sy beurt voer Facebook aan hulle kan nie verantwoordelik gehou word vir die manier waarop maatskappye gebruikers se data kwansuis regmatig inwin as dié maatskappye nie hul bedoelings met die data akkuraat aandui nie.
Die sosiale netwerk het wel besluit om Cubeyou vir eers die platform te verbied tot ’n volledige ondersoek gedoen is. Sou Cubeyou weier om daaraan deel te neem, sal hy permanent uitgeskop word.
Die universiteit het in ’n verklaring gesê hul verhouding met Cubeyou was “nie kommersieel van aard” nie en dat geen geld uitgeruil is nie. “Hulle het bloot ’n koppelvlak gebou vir ’n webwerf wat ons psigologiese modelle gebruik het om die gebruikers insig oor hul data te gee.”
Die onthulling kom op die vooraand van Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook, se verskyning voor die Amerikaanse kongres om vrae rondom kwessies oor die misbruik van Facebook-gebruikers se data te beantwoord. – Netwerk24/Bronne: The Guardian, CNBC

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie