Europese uitstappie insiggewend vir MX

Om by wêreldkampioene te leer, was 'n puik leerervaring vir Mark Sternagel.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die 23-jarige Mark Sternagel van Windhoek was laasmaand in Duitsland waar dié Red Bull-ambassadeur aan twee strawwe kompetisies met 'n geleende motorfiets deelgeneem het.

Die eerste was 'n klubkompetisie by Bauscheim op 17 Augustus in die omgewing van Frankfurt. Die tweede resies twee weke later was deel van die FIM se Internasionale Ope Meesters-kampioenskapsreeks wat deur die Allgemeiner Deutscher Auto-Club (ADAC) by Bielstein aangebied is. Die ADAC is die Duitse weergawe van die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF).

Sternagel het reeds op 7 Augustus na Europa gevlieg, maar kon eers op die dag van die eerste kompetisie by Bauscheim op sy geleende 2019 KTM SXF met standaardvering sy tande op die onbekende baan slyp.

Sternagel, wat as vierjarige die eerste keer aan motorfietssport begin deelneem het, vertel van sy ondervinding by Bauscheim.

“Die bane verskil hemelsbreed van dit waaraan ek hier in Namibië gewoond is. Die oefenrondtes het heel skaflik verloop en ek kon die sesde posisie vir kwalifikasie inneem. Maar met die kwalifiserende rondtes voor die resies het dinge vir my lekker skeef geloop. Ek het die krane oopgedraai om 'n goeie tyd in die eerste rondte te behaal, maar toe val ek en beskadig die KTM.

“Ek is toe terug na die kuipe waar Collin Dugmore, my afrigter wat ook die fiets aan my geleen het, die KTM weer renvaardig gekry het. Ek slaag toe daarin om die sewende posisie in die wegspringhekke te haal.

“In die eerste been waar ons vir 20 minute plus twee rondtes jaag, het ek 'n swak wegspring gehad en moes uithaal om die voorlopers in te haal. Ek slaag daarin om 'n paar jaers verby te gaan en jaag sesde oor die eindstreep.

“In die tweede been spring ek goed weg en ek bevind my met die derde rondte in die vyfde plek, maar al het ek my ritme op die vreemde baan gevind, val ek toe weer. Ek slaag daarin om my pad terug tot die agtste plek oop te veg, waar ek met die tweede en laaste been van die byeenkoms eindig.

“Dit was beslis nie my beste dag op 'n motorfiets nie, maar met die vreemde KTM en omstandighede in ag geneem, is ek relatief tevrede met die uitslae. Die baan en grond verskil van dié in Namibië, maar genadiglik is daar lig in die tonnel vir my in Duitsland.

“Dit was lekker om komplimente van die plaaslike mense rakende my jaagstyl te kry en ek het die kinders geniet wat hierdie Namibiër aangespoor het. Daar was twee weke tot die volgende kompetisie op 31 Augustus en 1 September beskikbaar en ek kon ten minste bietjie oefen,” het Sternagel aan Republikein vertel.



BIELSTEIN

Tydens die ADAC MX Masters by die dorp Bielstein wat deur die Motorsportklub Drabenderhöhe-Bielstein aangebied is, het Sternagel die eer gehad om saam met 'n voormalige én heersende wêreldkampioen te jaag.

Die 22-jarige Pauls Jonass van Letland was in 2017 met sy Husqvarna die MX2-wêreldkampioen, terwyl die Nederlander Jeffrey Herlings (24) verlede jaar die MXGP-wêreldtitel met sy KTM ingepalm het.

“Dit was 'n fantastiese ondervinding. Die Saterdag en Sondag van die kampioenskapsbyeenkoms, was sekerlik van die moeilikste vir my. Maar ek het met elke rondte geleer, wat ek weer plaaslik kan toepas.

“Saterdag met die oefenrondtes het ek gesukkel om aan die baan gewoond te raak, want dit is 'n baie moeilike en tegniese baan wat aan die voet van 'n heuwel geleë is. Die trajek is baie klipperig, loop baie op en af en daar is baie draaie waar jy nie teen 'n helling (off cambered corners) kan jaag nie.

“Ek vaar beter in die kwalifiseringsrondtes, maar mis kwalifikasie met 0.100 van 'n sekonde. Genadiglik laat hulle my toe om as reserwe-ryer die volgende dag in die tweede been weg te spring. Daar was 40 inskrywings en ek moet die heel buitenste posisie inneem, wat sleg is.

“Die Sondag het sake ietwat beter vir my verloop met die opwarmrondtes, maar die baie reën wat deur die nag geval het, het die oppervlakte by sekere areas geweldig modderig en glyerig gemaak. Ons maak 'n paar verstellings aan die KTM se vering en ek voel gemakliker met die fiets.

“In die eerste been het ek nie gejaag nie, maar kon wel kyk hoe Herlings en Jonass mekaar kop-aan-kop op 'n baie moeilike baan aandurf. Dit was omtrent 'n ervaring om dié twee legendes in aksie te sien. Hul onderskeie jaagstyle en die manier hoe die twee hul lyne op die baan kies, was op sigself 'n openbaring en 'n reuseles vir my!

“Die tweede been (beide renne was 30 minute plus twee rondtes) jaag ek wel, maar die heel buitenste wegspringplek (40ste) plaas my in 'n ongunstige posisie. My wegspring was heel skaflik, maar om 'n groot groep jaers van buite verby te steek, was baie moeilik.

“Ek gaan wel 'n paar jaers verby om uiteindelik 33ste klaar te maak. Die uitstappie by Bielstein was beslis nie maklik nie. Gelukkig het ek soveel positiewe dinge geleer wat ek huis toe kon neem,” het Sternagel aan die koerant vertel.

“Ek bedank graag my ouers en veral Collin Dugmore wat my besoek aan Duitsland moontlik gemaak het. My opregte dank aan Sternbau, Extreme Degreaser, Crossfit plus264 en No Limit Racing vir hul ondersteuning,” het Sternagel waarderend afgesluit.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer