‘Europa moenie dikteer oor jag’

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Ons vertel nie vir Europeërs hoe om te ski nie en dit is onaanvaarbaar dat hulle aan ons dikteer dat ons nie mag jag nie.
Dít was die boodskap van die adjunkminister van die omgewing en toerisme, mnr. Tommy Nambahu, gister tydens die amptelike opening van die tweedaagse voorsitters­forum van kommunale bewaringsgebiede in die hoofstad. Die tema is bewaringsjag.
“Ons probeer ’n punt by ons Europese vennote maak dat jag deel van ons kultuur is. Ons jag al vir eeue en het steeds baie wild,” het Nambahu beklemtoon.
Hy het gisteroggend van Brussel in België teruggekeer waar hy die belangrikheid van bewaringsjag in Namibië onder die aandag van die Europese Unie (EU) gebring het. Die meerderheid van die EU-parlements­lede het egter teen die verbod gestem.
“Europeërs moenie vir ons vertel van goed waarvan hulle nie weet nie. Ons is ’n onafhanklike, demokratiese land. Dit is onaanvaarbaar. Ons soek vir gelyke vennootskappe, maar respekteer ons siening en soewereiniteit,” het Nambahu gesê.
Hy het gevra wat sal gebeur as daar ’n verbod op jag geplaas word, veral in ’n droogtegeteisterde land soos Namibië. Hy meen die volhoubare gebruik van wildlewe is al vir dekades die pilaar van natuurbewaring.
“Wat sal gebeur met ons wildlewe, binne en buite ons nasionale parke? Hoe gaan dit die lewens van ons landelike gemeenskappe beïnvloed?” het Nambahu gevra.
Hy het gesê as bewaringsjag weg­geneem word, sal wildlewe die verloorder wees en die landelike gemeenskappe sal die meeste daaronder ly.
“Ons is onder druk met ’n verbod op die invoer van jagtrofeë na Europa, maar bewaringsgebiede sal dan geen inkomste hê nie,” het me. Maxi Louis, direkteur van Nacso, Namibië se sambreelorganisasie vir die Gemeenskapgebaseerde Natuurlike Hulpbronnebestuur-program (CBNRM), gesê.
“Vanaf 2014 het 48 trofeejagkonsessies ’n inkomste van N$36 miljoen verdien met 134 voltydse en 108 deeltydse poste wat geskep is,” het Louis gesê.
Nambahu het voorts gesê dat Namibië wreedheid teenoor diere en swak jagpraktyke veroordeel en ten gunste van etiese jag is, “daarom moet julle jul huise in orde kry”.
Volgens die adjunkminister is die grootste uitdaging die onwettige jag van renosters en olifante en dit moet dadelik gestop word.
“Daar is geen nuwe voorvalle onlangs aangemeld nie, maar as bewarings­gebiede het julle ’n groter rol om te speel om wildstropery te beveg. Julle is op die grond en julle kan wildstropery­ voorkom,” het Nambahu versoek.
Hy ­meen dit is ook belangrik dat bewaringsgebiede insette sal lewer in die nasionale strategie oor wild­beskerming en wetstoepassing.
Voorts sal die nasionale beleid oor mens-dier-konflik ook vanjaar hersien word en die proses het reeds begin.
“Ek doen ’n beroep op julle om tydens die konsultasieproses praktiese en gefokusde benaderinge voor te stel om mens-dier-konflik te voorkom,” vra Nambahu.

TOEKENNINGS
Kommunale bewaringsgebiede is vir hul prestasies met N$100 000 en trofeë elk in drie kategorieë beloon, naamlik die beste gebeurtenisboek, die beste vordering en ontwikkeling en die beste demokrasie en verbetering van lewensbestaan.
Salambala het die prys vir die beste gebeurtenisboek gewen en vyf bewaringsgebiede moes die prys vir die beste vordering en ontwikkeling deel, naamlik Impumbu ya Tshilongo, !Huibes, //Gamaseb, //Audi en African Wild Dog. Hulle ontvang dus N$20 000 elk.
Balyerwa is die bewaringsgebied met die beste demokrasie en bevordering van lewensbestaan.

Kommentaar

Republikein 2025-06-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer