Etzebeth bly tot 2024 in Frankryk

Rugby
Die Suid-Afrikaanse Wêreldbeker-wenner Eben Etzebeth het sy kontrak met Toulon verleng en sal sy rugby tot aan die einde van die 2024-seisoen vir dié Franse Top 14-klub speel.
Die Springbok-slot het hom in Desember 2019 by die driemalige Europese kampioen aangesluit nadat hy ’n sleutelrol in die Bokke se WB-triomf in Japan vertolk het.
Etzebeth (28), met 85 toetse in die groen en goud, het dadelik indruk gemaak by Toulon-aanhangers deur in die vierde minuut van sy eerste wedstryd ’n onderskepdrie vanaf 40 meter te druk in ’n klinkende oorwinning van 41-19 teen Clermont.
Hy het in agt kragmetings vir sy nuwe span uitgedraf voordat die seisoen weens die Covid-19-pandemie opgeskort is.
Etzebeth, ’n intimiderende teenstander wat 2,03 m in sy sokkies staan en die skaal op 122 kg laat kreun, sal volgens Toulon ook help om jong spelers by die klub af te rig.
Etzebeth geniet duidelik sy tyd in Frankryk en het onlangs 'n foto van hom en die gemengde-gevegkunstenaar Conor Mcgregor tydens 'n braai by sy huis op Instagram gedeel. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-07-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer