Espresso tussen êrens en nêrens

Ses verskillende koffies en selfgebakte lekkernye wag in die koffiekroeg langs die pad.
Tanja Bause
Tanja Bause



Elke oggend douvoor­dag staan Leopoldine Tsibes (54), bekend as Lettie, op, trek haar voorskoot aan, gryp haar emmer en groet haar familie met die woorde: “Ek gaan werk toe.”

Lettie loop dan die sowat 30 meter oor die erf na 'n bloedrooi gebou waarin haar koffiekroeg is.

Die Petrified Forest Coffee Shop is op die C39-pad na Torrabaai, 23 kilometer buite Khorixas op die plaas Bella Vista Pos Twee.

“Ek het die koffiekroeg vernoem na die wêreldbekende versteende woud wat 20 km vanaf my plek geleë is,” sê Lettie, 'n gekwalifiseerde verpleegster wat vir 30 jaar verpleeg het.

Die koffiekroeg is deur Lettie begin, maar haar man Edmundt Tsibes (54), bekend as Eddie, het eerste met 'n kruidenierswarewinkel op die plaas begin.

Eddie het ná skool voltyds saam met sy pa op die plaas begin boer. Hy het die potensiaal vir die kruidenierswarewinkel raakgesien, omdat daar talle plase in die omgewing was en geen winkels nie.

“Die winkel was aan­vanklik sodat die plaasmense van die omgewing nie Khorixas toe hoef te ry nie. Maar namate die tyd verloop het, het my man gesien hoeveel toeriste op die C39 ry. Hulle het ook by die winkel begin stop. Baie van hulle het stukkende bande gehad en hulle wou uitvind waar hulle dit kon laat regmaak. Ons het toe met 'n werkswinkel vir bandeherstel begin,” het Lettie gesê.

Terwyl die toeriste sit en wag het dat hul bande herstel word, het hulle dan vir Lettie gevra waar die naaste plek is waar hulle koffie kan drink en iets kan eet.

“So is die koffiekroeg gebore. Baie van die mense van die omgewing het die wysheid van ons besluit betwyfel, omdat dit so warm hier by ons is en niemand koffie sal wil hê nie, maar ek en my man het by ons besluit gestaan en in April 2018 het ons die Petrified Forest Coffee Shop oopgemaak.

“Dit was ongelooflik. Ons kry gaste vanuit die hele wêreld, maar wat vir ons spesiaal is en ons opgewonde maak, is ons eie Namibiërs wat ons besoek en ondersteun,” het sy gesê.

Lettie en Eddie se liefde vir koffie kom al 'n lang pad aan en koffie speel 'n groot rol in hul lewe.

“Soggens voordat my man die bokke uit die kraal laat gaan, drink ons eers saam 'n lekker koppie swart koffie saam. Dan begin ons dag en so teen 19:00 sit ons saam in die koffiekroeg en geniet 'n koppie koffie om die dag mee af te sluit.

“My gunsteling koffie is Café Latte en my man drink graag moerkoffie.”

Lettie het met die hulp van YouTube-videos en Google haarself geleer om die verskillende koffie te maak wat sy nou bedien.

“Op my ouderdom het ek met 'n leesbril op my neus boeke gelees en navorsing gedoen. Ek en my man het dit ook 'n instelling gemaak om ver­skillende koffies te proe wanneer ons die groot dorpe besoek en die kans kry.

“Natuurlik het ek baie geoefen om die perfekte koppie te kan maak en my man was die proefkonyn. Ek het hom gevra om te proe en te sê of dit reg is en aangepas en weer probeer totdat dit die perfekte koppiekoffie was. Wanneer die kinders kom kuier het, moes hulle ook koffie ná koffie proe.”

Sy bedien Cappuccino, Espresso, Café Latte, Americano, Moerkoffie en Self Service (kitskoffie wat gaste vir hulself kan maak).

“Wat my baie trots laat voel, is wanneer ek vir kliënte die spyskaart gee en hulle sien Americano daarop en hulle vra 'bedien julle dan ook Espres­so's hier in die middel van nêrens'? Ek kan met 'n glimlag en trots antwoord 'ja, natuurlik'.”

Bier en nie-alkoholiese drankies word ook bedien, asook ligte etes en selfgebakte lekkernye.

“Ek bak self. Dit is iets wat ek by my ma geleer het en van kleins af as 'n stokperdjie gedoen het. Nou bak en brou ek vir my besigheid en nie net vir my gesin nie. Ek bak graag kolwyntjies, wortelkoek, gemmerkoekies, vetkoek en skons.”

Toeriste doen ook gereeld navraag oor kampeergeriewe en die egpaar dink daaraan om in die toekoms 'n kampeerplek te bou.

Daar is ruimte om tussen 12 en 18 gaste in die koffiekroeg te bedien, wat sewe dae per week vanaf 10:00 tot 16:00 oop is.

“Ek staan elke oggend baie vroeg op om die koffiekroeg wat 30 meter vanaf my huis is, te gaan skoonmaak en alles voor te berei voordat die kliënte kom. Wanneer hulle kom, moet alles gereed wees.

“Dit was wel nou verlede jaar anders weens Covid-19 wat alles tot stilstand laat kom het, maar ek maak nog steeds elke dag seker dat alles in plek is en die winkel skoon is. Ek is nog altyd positief en reg om die gaste te verwelkom.”

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer