Eskom 'moet nóg meer leen', al styg skuld skerp
Elvira Wood
Eskom het “geen keuse as om nóg lenings met staatswaarborge aan te gaan” ten einde die ligte in Suid-Afrika aan te hou nie.
Calib Cassim, Eskom se finansiële hoof, het Woensdag met die bekendmaking van die kragverskaffer se resultate vir die ses maande tot einde September, 'n droewige prentjie oor Eskom se skuldposisie geskets.
Teen einde September was Eskom se skuld reeds op R419,2 miljard teenoor R367 miljard in die ooreenstemmende tyd in 2017.
Die omvang van die land se staatswaarborge aan staatsondernemings is een van die hoofredes waarom kredietgradeerders bekommerd is oor Suid-Afrika se vermoë om sy skuld in die toekoms te kan betaal.
Eskom se skuld-tot-ebitda-marge was 'n enorme 16,59 aan die einde van September teenoor 14,1 'n jaar gelede en 12 aan die einde van September 2016.
Dié marge dui aan – gegrond op die huidige skuldlas en verdienste – hoeveel jaar dit sal neem om die skuld af te betaal. (Volgens Investopedia is 'n marge van tussen vier en vyf genoeg om die rooi ligte te laat flikker oor 'n maatskappy se vermoë om sy skuld te kan betaal.) Eskom het in die halfjaar R45,2 miljard bestee om skuld te diens; 94% meer as die R23,3 miljard in die ooreenstemmende halfjaar.
INKOMSTE EN WINS
Eskom se inkomste het in die ses maande met 3% tot R98,1 miljard gestyg (R95,5 miljard in die ooreenstemmende ses maande).
Sy wins ná belasting het met 89% tot R671 miljoen gedaal. Sy verkoopsvolumes het met 0,8% gedaal.
Eskom het egter R902 miljoen teruggekry van die konsultantegroep McKinsey.
McKinsey het in Oktober 2017 erken hy het nie sy eie prosedures gevolg toe hy met Eskom sake gedoen het nie. Dit sluit in die vennootskap met Trillian Capital Partners, 'n maatskappy waarin die Guptas se sakevennoot Salim Essa belange het.
Te midde van sy benarde skuldposisie het Eskom se salarisrekening met 12% gestyg tot R16,9 miljard (R15,2 miljard einde September 2017).
Eskom sukkel ook toenemend om die geld wat munisipaliteite hom skuld, te verhaal.
Munisipaliteite skuld hom nou R17 miljard; 25% meer as 'n jaar gelede.
Soweto in die suide van Johannesburg skuld R12,5 miljard.
VOORUITSIGTE
Cassim het in antwoord op 'n vraag gesê Eskom verwag om vir die voljaar 'n verlies van sowat R15 miljard te ly.
In sy begroting vir die 2018-'19-boekjaar het hy 'n verlies van R11,2 miljard voorsien.
Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom, sê die direksie oorweeg om Eskom se verskillende afdelings “af te kamp”. As afsonderlik na opwekking, transmissie en verspreiding gekyk word, sal 'n beter prentjie vorm van waar die probleme is en hoe om dit reg te stel, het hy gesê.– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie