Erongostreek het agt nuwe gevalle
Erongostreek het agt nuwe gevalle

Erongostreek het agt nuwe gevalle

Vier kontakte van die Mariental-skoolseun het ook siek geword.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Agt nuwe gevalle van Covid-19 is gister in die Erongostreek aangemeld en het Namibië se aantal bevestigde gevalle tot 63 opgestoot.

Uit die agt nuwe gevalle is sewe op Walvisbaai en een op Swakopmund. Vier van die bevestigde gevalle op Walvisbaai is kontakte van geval 37, 'n 20-jarige leerling van die Sekondêre Skool Mariental wat op Walvisbaai woon, maar wat op Mariental skoolgaan en daar getoets is. Die suide­skool is intussen vir twee weke gesluit en alle koshuisleerlinge is vir 14 dae in kwarantyn in die koshuis geplaas.

Drie van die nuwe gevalle het geen reisgeskiedenis of enige kontak met 'n bevestigde geval nie.

Geval 56 is 'n 36-jarige vrou van Kuisebmond en 'n kontak van geval 37; geval 57 is 'n 24-jarige vrou van Kuisebmond en 'n kontak van geval 37; geval 58 is 'n 30-jarige man van Kuisebmond en 'n kontak van geval 37; geval 59 is 'n 14-jarige meisie van Walvisbaai en 'n kontak van geval 37; geval 60 is 'n 34-jarige vrou van ­Kuisebmond en 'n kontak van geval 35; geval 61 is 'n 24-jarige vrou van Walvisbaai met geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie; geval 62 is 'n 65-jarige man van Kuisebmond met geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie; geval 63 is 'n 40-jarige man van Swakopmund met geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, is 7 321 weefselmonsters tot op hede getoets waarvan 322 oor die naweek. Hy sê 289 aktiewe kontakte word gemonitor, terwyl 689 mense tans in kwarantyn in geriewe oraloor in die land is.

Nog twee mense het intussen ten volle herstel (gevalle 23 en 25), wat 42 aktiewe gevalle laat.

Geval 23 is 'n 38-jarige ­Namibiese vrou wat op 23 Mei vanaf Dar es Salaam, Tanzanië teruggereis het.

'n Vroulike gesondheidswerker (32) was Namibië se 25ste geval en het einde Maart per bus na Suid-Afrika gereis en weer op 29 Mei per vliegtuig na Namibië ­teruggekeer. Sy is met haar aankoms onder kwarantyn geplaas waar sy positief vir Covid-19 getoets het. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer