Erkki pak Shoprite
Erkki pak Shoprite

Erkki pak Shoprite

Die supermarkgroep word beskuldig van swak werksomstandighede, teenstand teen vakbonde en dat hy met dissiplinêre prosesse sloer.
Augetto Graig
Augetto Graig - Mnr. Erkki Nghimtina, minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, het gisteroggend die Suid-Afrikaanse Shoprite/Checkers-groep gekonfronteer oor werksomstandighede, teenstand teen vakbonde en die feit dat daar met dissiplinêre klagtes teen meer as 100 Shoprite-werkers in Windhoek gesloer word.
“Ek moedig Shoprite sterk aan om 'n nuwe blad om te slaan wat arbeidsverhoudinge in Namibië betref, deur 'n wedersyds-aanvaarbare ooreenkoms met die werkers aan te gaan,” het die minister gesê.
“Namibiërs is keelvol vir die Shop­rite-kwessie. Sowat 100 werknemers se dissiplinêre verhore sloer reeds twee jaar lank. Die lae lone en swak werksomstandighede duur voort, insluitende permanente deeltydse werk sonder vasgestelde werksure.
GEEN GESONDE PRENTJIE
“Shoprite bly teen vakbonde gekant. Tans is daar 14 klagtes sedert 2014 by die arbeidskommissaris aanhangig gemaak. Die klagtes verteenwoordig honderde werknemers, wat meestal na bewering onregverdig afgedank is, en daar is een klagte van Shoprite.
“Elf sake is nog hangend weens verskeie redes. Ek is teleurgesteld dat dit glad nie 'n gesonde prentjie oor arbeidsverhoudinge tussen Shoprite en sy werkers skets nie,” het die minister gesê.
Nghimtina waarsku dat sy ministerie outoriteit het en sê “die wet is daar”.
Advokaat Vicky ya Toivo, die minister se spesiale raadgewer, het gesê: “Dit gaan oor staatsbeleid. Daar is 'n verskeidenheid wette om toe te pas, asook 'n aantal hangende sake. Die regering is deur die saak aangegryp.”
'UITHEEMSE' ARBEIDSPRAKTYKE
Om die skep van 'n vakbond te verhoed is boonop teen artikel 95(c) van die Grondwet, het sy gesê.
Die permanente sekretaris van arbeid, mnr. Bro Mathew Shinguadja, het bygevoeg dat daar ook met ander lande waar Shoprite sake doen, veral binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC), gepraat kan word.
“Shoprite se optrede is soos Walmart, en ons weet almal wat met Walmart gebeur het. Shoprite doen ook sake op vergunning van die staat,” het hy gesê.
Shoprite is 'n reuse- kettinggroep in Namibië wat meer as 4 300 werksgeleenthede verskaf.
“Die probleem is die groep se beleid oor arbeidsverhoudinge en besluite vir Namibië word in Suid-Afrika gemaak. Dit skep sekere arbeidspraktyke wat uitheems is en wat stabiliteit en die moontlikheid ondermyn vir werkers om 'n goeie lewenstandaard te handhaaf,” het die minister gesê.
Volgens Nghimtina probeer hy en sy ministerie al sedert 2014 om die maatskappy se leierskap te betrek en aan te spreek oor verskeie tekortkominge, maar tevergeefs.
Hy sê Shoprite wil nie permanente deeltydse werkgeleenthede laat vaar nie, omdat dit maksimumwins vir hulle inbring.
'UITBUITING'
Tot 42% van Shoprite se werkers werk permanent op 'n deeltydse basis.
Waar permanente werkers 45 ure per week werk, werk permanente deeltydse werkers gemiddeld minder as 30 ure per week, sê hy.
“Permanente deeltydse werk moet uitgeskakel word. Dit is 'n uitbuitende praktyk,” het hy gesê.
“Laat hulle die vereistes van die wet en ook die Grondwet verstaan en die beste manier vind om daaraan te voldoen. As hulle dit teenstaan, sal dit jammer wees,” het die minister gesê.
Vrae is aan Shoprite gestuur, maar hulle het aangedui hulle het tyd nodig om terugvoering uit Suid-Afrika te kry.

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer