Eregraad vir baanbreker
Eregraad vir baanbreker

Eregraad vir baanbreker

Boet Matthews - Nog 'n stukkie geskiedenis is vir die gemeenskap van Karas­burg aan die kom wanneer een van die Katolieke Kerk in Namibië se staatmakers, sr. Paule Elizabeth Atiogbe, 'n ­eredoktorsgraad ontvang.

Sy word op 89-jarige ouderdom die eerste non in die land wat met só 'n toekenning vereer word.

Hierdie nuus volg kort ná vr. Willem Christiaans as die eerste plaaslike biskop van die Keetmanshoop-bisdom aangewys is.

Hy is 'n boorling van Gabis, maar het op 'n vroeë ouderdom saam met sy ouers na Karasburg verhuis waar hy onderrig onder sr. Paule ontvang het.

Die proses om die eredoktorsgraad te bekom, het in 2016 begin toe kinders van Karasburg hierdie besondere eer aan haar wou betoon. 'n Vertoë is aan die ­Universiteit van Namibië (Unam) gerig waarin verduidelik word hoekom sr. Paule erkenning as ­opvoeder verdien.

Ná twee jaar het die nuus op 26 Maart van Unam se visekanselier, prof. Lazarus Hangula, gekom.

Sr. Paule, wat daarvoor bekend is dat sy nie doekies omdraai nie, is nog baie aktief in die Karasburg-gemeenskap waar sy diens onder die dorp se bejaardes doen.

Sy sê: “My God gee my die krag om op hierdie hoë ouderdom vir andere goed te kan doen en vir andere te kan bid en verdere insette te kan lewer.”

Die Katolieke gemeenskap in Namibië wens sr. Paule baie geluk met dié besondere eer.

Sr. Paule ontvang op 15 Mei haar eredoktorsgraad wanneer Unam se Suide-kampus sy gradeplegtigheid op Keetmanshoop hou.

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer