Eredoktorsgraad vir suster Paule
Eredoktorsgraad vir suster Paule

Eredoktorsgraad vir suster Paule

Boet Matthews op Keetmanshoop - Min mense kon in hul leeftyd bereik wat die geliefde suster Paule Elizabeth Atiogbe, Namibië se eie Moeder Teresa, behaal het. Nou is sy boonop Dinsdag op die rype ouderdom van 89 jaar op Keetmanshoop met 'n eredoktorsgraad vereer.

Dié hoogste lof van die Universiteit van Namibië (Unam) is aan haar oorhandig tydens die geskiedkundige eerste gradeplegtigheid van die universiteit se kampus in die Suide wat by die skougronde op Keetmanshoop plaasgevind het.

Dit is boonop die eerste keer dat ‘n non in Namibië met so ‘n toekenning vereer word.

Vir Atiogbe se barmhartige en menslike werk oor dekades is hierdie die toepaslike verering.

Daar was luide applous vir die vrou wat haar lewe al 62 jaar lank "in die wingerd van die Here deurbring". Die mense van Karasburg het twee jaar gelede begin met die proses om ‘n eregraad aan haar te laat toeken, en ‘n vertoë aan Unam gerig waarin verduidelik word hoekom die land se eie Moeder Teresa so vereer moet word.

Atiogbe, of suster Paule, is nie sommer enige non nie. Vra maar vir ‘n paar bekendes in politieke kringe en hulle sal jou vertel wie en wat dié besonderse vrou werklik is. Sy was ‘n goeie onderwyseres en was jare later ook hoof van die Katolieke skool Laerskool De Porres.

Haar morele waardes het die grondslag gelê en vir baie van die gemeenskap het sy oornag ‘n rolmodel geword. Vir Atiogbe gaan dit nie net oor godsdiens nie, maar ook oor die identifisering van talent en blootstelling aan sport.

Sy het in haar jong dae rugby- en sokkerspanne by die skool gehad, waaruit ‘n senior rugbyspan met die naam Eagles ontstaan het. Oudstudente en mense op verskeie plekke in Namibië het gesê: “Ons is baie dank aan haar verskuldig vir die opvoeding wat ons van haar ontvang het.”

Op haar beurt het suster Paule gesê: “Ek het ‘n dankbare hart teenoor ons liewe Here wat my in 1947 so wonderlik op sy pad gesit het en ek is dankbaar dat ek in 1948 sy roepstem kon begin volg.”

Een van haar leerlinge, die ombudsman, adv. John Walters, het opgewonde gesê: “Dit was vir my ‘n vreugdevolle dag en ek voel geëerd om hierdie dag met suster Paule te kan vier. Vir dit wat sy vir almal gedoen het op ‘n klein plekkie soos Karasburg, sy het die basis vir verdere geleenthede vir ons gelê. In my geval het sy gehelp om ‘n beurs te kry sodat ek verder aan 'n universiteit kon gaan studeer. Ek wens haar goeie gesondheid toe en sê dankie vir dit wat sy vir almal van ons gedoen het. Sy verdien regtig al die lof en eer om dié eredoktorsgraad te kry.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer