Entveldtog verloor stoom
Entveldtog verloor stoom

Entveldtog verloor stoom

Al het Namibië nog ‘n beraamde 44 000 Covid-19-entstowwe in voorraad, is groot momentum ingeboet omdat voorrade nog nie aangevul is nie.
Dani Booysen
Dani Booysen – Beskikbare immuniseringsdata vir Namibië wat moet toon hoe die stryd teen Covid-19 vorder, wys tweede inentings word steeds gedoen ondanks die opdrag deur gesondheidsowerhede dat net eerste spuite toegedien moet word totdat die land se voorraad aangevul kan word.

Maandag is 1 384 eerste inentings landwyd gedoen en 612 opvolgspuite is toegedien.

Tot twee weke gelede is gemiddeld op ‘n weeksdag reg oor die land sowat 3 000 eerste spuite toegedien.

Landwyd – gemeet per week – het eerste inentings teen Sondag met 60% verminder.

In Windhoek het immunisering byna heeltemal tot stilstand gekom. Die hoofstad het voorheen byna 5 000 eerste inentings per week gedoen en op sommige weeksdae meer as 1 000. Verlede week se totaal was ‘n skrale 648.

Maandag is 78 eerste inentings in die Windhoek-distrik gedoen en die afgelope Vrydag 85. Donderdag is geen spuite toegedien nie, Dinsdag 55 en verlede Maandag darem nog 444.

Ons grafika wys ‘n duidelike afname in beide eerste en tweede inentings. Desondanks behoort daar volgens amptelike syfers steeds net meer as 44 000 entstowwe oor te wees.

Dit is onseker of tweede inentings gedoen word wanneer mense opdaag en daar geen aanvraag na eerste inentings is nie.

Namibië se teiken is om teen die einde van vanjaar 60% van inwoners te immuniseer – die beginpunt vir kudde-immuniteit. Die vordering hiermee is tans 8% wat eerste dosisse betref. Die kaart toon die vordering in die land se 14 streke.

In sekere streke was daar eers verlede week ‘n merkbare afname in eerste inentings. Die streke is Kunene, Ohangwena, Omusati, Oshana, Oshikoto, Kavango-Oos, Otjozondjupa, Omaheke en Zambezi.

Die probleem was reeds twee tot drie weke gelede sigbaar in Kavango-Wes, Erongo, Khomas, Hardap en //Kharas.

Sedert verlede Dinsdag is geen inentings in die Omahekestreek gedoen nie, buiten as die syfers nie gerapporteer is nie. In sekere streke droog voorrade meer sporadies op.

Inentingskoerse het met minder as 40% afgeneem in Ohangwena, Omusati, Oshana, Oshikoto en Zambezi. In die verre Noorde, buiten vir die Kunene- en Kavango-Oos-streke, was daar egter uit die staanspoor ‘n kleiner opkoms, wat kan beteken dat voorrade hier langer gehou het.

Afnames van 40% tot 50% is gerapporteer vir Otjozondjupa, Erongo, Hardap en //Kharas.

Inentingsyfers vir eerste dosisse is 69% minder in Kavango-Oos, 73% in Omaheke, 83% in Kavango-Wes, 85% in Kunene en 87% in Khomas.

Die afnames is bepaal deur die hoogste weeklikse syfer vir die afgelope vier weke met verlede week se totale te vergelyk.

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer