Entveldtog kwyn in meeste streke
Entveldtog kwyn in meeste streke

Entveldtog kwyn in meeste streke

Volgens daaglikse verslae is die laaste 20 dosisse AstraZeneca-entstof op 30 Julie in die Oshikotostreek toegedien.
Dani Booysen
Dani Booysen





Veertien dae nadat ‘n nuwe besending Sinopharm as entstof teen Covid-19 landwyd versprei is, het Namibië se inentingsveldtog in groot dele van die land die nuwe stoom verloor wat twee weke gelede op plekke herwin is.

Maandeliks toon opvolgspuite egter soos verwag steeds ‘n toename.

Verlede week is volgens beskikbare data 18 392 inentings gedoen (14 186 eerste dosisse en 4 206 tweede dosisse) teenoor byna 25 000 die week voor dit (14 642 eerste dosisse en 10 213 tweede dosisse).

In totaal is minder eerste inentings, 42 322, in Julie as in beide Mei en Junie gedoen. Laasgenoemde twee maande se totale was onderskeidelik 44 452 en 53 235.

Die syfers van twee streke wat vir Vrydag en Saterdag nie betyds deur hoofkantoor in Windhoek ontvang is nie, sal nie die prentjie noemenswaardig verander nie. Kunene en Kavango-Oos sal die syfers tot die nuwe week toevoeg, wat statistiek nie 100% betroubaar maak nie.

Omusati, Ohangwena en Kavango-Wes se syfers vir Vrydag en Saterdag is eers Sondag gerapporteer.

Volgens daaglikse verslae is die laaste 20 dosisse AstraZeneca-entstof op 30 Julie in die Oshikotostreek toegedien. Een persoon het hul eerste inenting hiermee ontvang en 19 hul opvolgspuite.

Verslae sal toon of daar nog elders van die entstof opduik.

Met net Sinopharm in voorraad, voer baie mense aan hulle wag op die beskikbaarheid van ‘n groter keuse. Sinopharm word nie plaaslik geskik geag vir persone van 60 jaar en ouer nie.

IN DIE STREKE

Teen Sondag is in totaal byna 215 000 inentings teen Covid-19 gedoen.

In die Khomasstreek is dusver sowat 50 000 eerste dosisse toegedien en 14 500 opvolgspuite. In teorie geniet een uit tien, of 10% van die Windhoek-distrik se inwoners dus basiese beskerming teen die virus en sy variante, met 3% wat volledig ingeënt is.

Die streke met die naasbeste vertonings is Hardap, met 9% van die bevolking wat ‘n eerste spuit ontvang het en 2% ook ‘n tweede; Otjozondjupa en //Kharas, beide met 8% en 3%; en Erongo en Omaheke (8% en 2%).

Net drie streke het verlede week ‘n toename in inentings gerapporteer.

In Ohangwena is tot drie keer soveel mense ingeënt, met 365 eerste inentings die afgelope Woensdag. In Kunene is op dieselfde dag 230 eerste spuite toegedien.

Hardap se daaglikse totaal het omtrent verdubbel. Hier is meer as 300 eerste inentings per dag gedoen.

Die Khomasstreek se bevolking is vyf keer groter as dié van Hardap. Erongo het twee keer soveel inwoners.

Verlede Dinsdag is 624 eerste inentings in die Windhoek-distrik gedoen. Op ander dae was die totaal in die 500 en 600, met 294 eerste spuite die afgelope Saterdag.

Die Woensdag voor dit is 1 480 eerste inentings op een dag gedoen.

Verlede Maandag het die Khomasstreek 242 twee spuite toegedien – teenoor die inhaaltog van meer as 1 000 tweede intenings per dag die Maandag tot Woensdag voor dit.

Die afgelope week se piek wat eerste spuite in die Erongostreek betref, was 277 inentings op Donderdag. Die Woensdag voor dit is 285 eerste intenings gedoen.

Hierdie syfers is laer as die Hardapstreek s’n van meer as 300 per dag van Maandag tot Vrydag verlede week.

TOE, EN NOU

Toe Namibië se entveldtog in Maart in die Khomas- en Erongostreke uitgerol is, is aanvanklik sowat 1 500 spuite ‘n week toegedien.

Die syfer het eers tot 4 000 gegroei, toe tot 8 000 en 15 000 vroeg in Mei. In die derde week van Junie is 20 000 mense ingeënt.

Die getal het tot 17 000 en so laag as 9 000 gedaal voor twee weke gelede se 25 000 inentings.

Republikein se vrae aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste oor duisende dosisse van AstraZeneca waarvoor blykbaar nie verantwoording gedoen is nie, bly onbeantwoord.

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer