Entstof vandag hier
Entstof vandag hier

Entstof vandag hier

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het vroeër gesê China het 100 000 dosisse entstof geskenk.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Die CoronaVac-entstof, wat deur die Chinese farmaseutiese vervaardiger Sinopharm ontwikkel is, word vandag amptelik in Windhoek in ontvangs geneem.

Die eerste inentings kan so vroeg as Donderdag geskied. Dit was teen laat gistermiddag deur die hoof van die Namibiese taakspan vir die land se Covid-19-immuniseringsveldtog, me. Petronella Masabane, bevestig.

Volgens Masabane word Sinopharm vandag om 11:00 deur onder meer die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, in ontvangs geneem. Shangula het vroeër gesê China het 100 000 dosisse van die entstof geskenk. Hy het laat gistermiddag gesê die media sal uitgenooi word om die aankoms van die entstowwe by die lughawe te dek die oomblik wanneer logistieke reëlings gefinaliseer is.

Volgens ’n voorlopige immuniseringsplan wil Namibië teen einde Januarie aanstaande jaar N$1,5 miljoen inwoners teen Covid-19 inent.

Volgens die plan onder die vaandel Covid-19 Immuniseringstrategie wat deur ’n ingeligte bron in die mediese bedryf aan Republikein verskaf is, wil die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste tydens fase 1 wat van April tot Augustus vanjaar duur, 501 228 mense teen Covid-19 inent.

Die voorgestelde entstowwe sluit in die van Pfizer BioNTech, AstraZeneca, Sinopharm, Gamaleya Moderna, onderskeidelik twee dosisse elk en een dosis van die Johnson & Johnson-entstof. Die tweede fase word vanaf September vanjaar tot Januarie aanstaande jaar beplan met die doelwit om meer as ’n miljoen inwoners te immuniseer.

Volgens die strategie word die immunisering geïntegreer in die bestaande uitgebreide program vir immunisering. Al die entstowwe word afgelewer deur die bestaande afleweringsmodelle vir entstowwe en is van toepassing op alle diensverskaffers van gesondheidsdienste in die land.

Vaste immuniseringspersele naby aan teikenbevolkings sal volgens die dokument gebruik word om reistyd, koste en logistieke probleme te verminder.

In fase 1 (a tot e) word 501 228 inwoners (20% van die bevolking) geteiken by 354 persele en in fase 2 (a tot e) word ’n miljoen mense oor vier maande by dieselfde hoeveelheid persele geteiken.

In fase 1 (a) is die immunisering van 53 849 hoërisiko-gesondheidswerkers die doelwit, gevolg deur fase 2 (b) mense ouer as 60 met of sonder onderliggende toestande. Hier is die teiken 87 000 mense.

In fase 1 (c) val die fokus op risikogroepe met ander siektes soos diabetes en MIV/vigs en wel 185 000 mense. Fase 1 (d) is risikogroepe sonder toegang tot gesondheidsgeriewe met ’n hoë risiko om ernstig siek te raak (69 946 mense) en die laaste fase teiken werkers in hoërisikobedrywe wat nie sosiale afstande kan handhaaf nie (86 819 mense).

In die tweede fase om 21 % tot 60% van die bevolking in te ent, strek die immuniserings ook van 2 (a) tot 2 (d) en sluit gesondheidswerkers wat nie in die eerste fase ingeënt is nie, ouer volwassenes, asook die res van risikogroepe wat nie weens hul werk sosiale afstand kan handhaaf nie.

Die totale vereiste dosisse om die plan vlot te laat verloop teen twee dosisse per persoon, is 2 miljoen entstowwe.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer