Entstof moontlik einde Januarie hier
Entstof moontlik einde Januarie hier

Entstof moontlik einde Januarie hier

Namibië is in gesprek met lande soos China en Rusland vir moontlike bilaterale ooreenkomste en/of skenkings vir die Covid-19-entstof.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Namibië kan moontlik reeds teen die einde van Januarie “op klein skaal” die eerste besen­ding Covid-19-entstowwe van Pfizer in die land verwag.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het die Covid-19-entstof Globale Toegangsgeriewe (Covax) op 6 Januarie die ministerie laat weet dit kan moontlik in 'n posisie wees om 'n klein skaal “eerste golf” aflewerings van die Pfizer-entstof “so vroeg as die einde van Januarie of Februarie” aan die gang te sit.

Volgens Shangula het die regering op 5 November verlede jaar 'n betalingsooreenkoms aangegaan vir die uitstaande US$9 miljoen, nadat dit reeds N$29,2 miljoen (US$1,6 miljoen) betaal het om genoeg entstowwe te kry om 20% (508 200 inwoners) van die bevolking te immuniseer.

Om die voldoende vlak van kudde-immuniteit te bereik, sê Shangula 'n dekkingskoers van 60% tot 80% van die bevolking moet bereik word. Buiten vir die Covax-geriewe is die land volgens die minister ook op 'n bilaterale grondslag in gesprek met Pfizer, China, Rusland en ander lande wat groot vooruitgang toon in die vervaardiging van Covid-19-entstowwe vir moontlike bilaterale ooreenkomste en/of skenkings.

Shangula sê bykomende hulpbronne moet gevind word vir die verkryging van bykomende dosisse om minstens 60% van die bevolking te immuniseer om die gewenste vlak van kudde-immuniteit te bereik.

Hy doen gevolglik 'n beroep op die mediesefondsbedryf om begunstigdes deur hul mediese skema te ondersteun om toegang tot die entstof te kry. In dieselfde asem gaan die regering ook “korporatiewe Namibië” vir ondersteuning betrek.

“Ek doen weereens 'n beroep vir die ondersteuning van alle vredeliewende Namibiërs, ons vennote en vriende, om hande te vat en toegang tot die entstof te verseker,” het hy gesê.

Volgens Shangula sal die ministerie van finansies, die Regulerende Owerheid vir Finansiële Instellings in Namibië (Namfisa) en die Vereniging vir Namibiese Mediese Fondse (Namaf) eersdaags vergader om maniere te vind om die entstof te finansier.

Hy sê ook die Covid-19 Nasionale Entstof Taakspan is tans besig om meganismes en logistiek gereed te kry vir die uitrolproses van die entstof in die land. Volgens die minister sal voorkeur gegee word aan gesondheidswerkers wat in die voorste linie van die pandemie is, asook groepe in die bevolking wat weerloos is in geval van ernstige simptome.

Tans is 22 266 gesondheidspersoneel by die Raad vir Gesondheidsberoepe in Namibië (HPCNA) geregistreer, wat wissel van aptekers tot verpleegsters tot dokters.

“'n Voorraadopname van toerusting om die koue ketting tydens berging en verspreiding te verseker, is byna voltooi.”

Hy het erken bykomende toerusting kan nodig wees vir entstowwe wat uiterste koue temperature vereis.

Die taakspan is ook besig met die beplanning van opleiding vir mens­like hulpbronne om die entstof so vinnig as moontlik te versprei. Met verwysing na die Nasionale Medisynebeheerraad (NMRC) sê Shangula die goedkeuring van die raamwerk vir entstowwe vir voorlegging aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) word gefinaliseer. Hy het beklemtoon die entstof gaan “lewens red die oomblik wat dit beskikbaar is”.

Die entstof sal gratis as deel van die ministerie se nasionale immuniseringsveldtog beskikbaar wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer