Enjins brul weer in beeskontrei
'n Nuwe uitdaging wag vir motocross-entoesiaste.
Tielman van Lill - Gobabis-motorklub (GMK) bied môre met groot opgewondenheid sy eerste nasionale motocross-byeenkoms aan.
'n Nuwe baan met die hulp van die gesoute baanbouer Ingo Waldschmidt is nege kilometer suid van Gobabis op die Leonardville-pad op die plot van Dewald Venter uitgelê en voldoen aan al die regulasies van die wêreldbeheerliggaam, die FIM.
Die baan van ongeveer 1.2 km lank is volgens Waldschmidt bykans 'n replika van die ou baan wat buite Gobabis op munisipale gronde gevestig was. MX-byeenkomste op Gobabis het doodgeloop en die ou baan het in onbruik verval.
Met die stigting van die GMK laasjaar het die komitee besluit om nuwe lewe in motor- en motorfietssport in hul beeskontrei te blaas.
Intussen het die GMK vroeër vanjaar 'n enduro-kompetisie aangebied en meer onlangs die enjins in 'n veldren-kompetisie (off-road) laat brul.
Die klub het aansoek by die munisipaliteit gedoen om die ou baan weer te begin gebruik, maar die owerhede kon geen definitiewe tydperk aan GMK verskaf wanneer die ou baan gebruik kon word nie. Dus was Venter se grond 'n veilige en logiese keuse om die nuwe baan op sy grond uit te lê waar die eerste nasionale byeenkoms in baie jare gehou gaan word.
Waldschmidt beskryf die uitleg soos volg: “Dit is 'n lekker baan, bietjie moeilik, maar ons wil die beste jaers hier hê. Die trajekte voldoen aan die FIM-voorskrifte en is ook deur Andreas Brendel van die Namibiese Motorsportfederasie geïnspekteer en goedgekeur.
“Ek het nie self die baan uitgemeet nie, maar ek verstaan dis nagenoeg 1 200 meter lank en daar is dele wat dubbele spronge, hoë lugspronge, ritme- en 'loop'–seksies bied wat deur 'table tops' en vier haarnaalddraaie asook drie 90-grade-draaie en 'n slinkse kinkel afgewissel word.
“Uiteraard is die baan weens die droogte tans baie sanderig, maar die GMK-ouens het reeds die afgelope dae die trajek natgegooi om die grond te kompakteer.
“Dit is belangrik dat ons jaers met nasionale kompetisies die kans kry om nie net op Gallina of Swakopmund of Walvisbaai te ry nie, maar ook op 'n topbaan soos wat Gobabis nou gaan bied.”
Dewald Venter van die GMK is opgewonde oor wat die nuwe baan vir sy dorp kan doen.
“Gobabis was vir jare bekend vir sy lekker baan en die ouens wat die baan kom inspekteer het, is beïndruk met die nuwe weergawe. Ons het rêrig moeite gedoen. Die baan is bietjie uitdagend, maar dit bied iets vir jonk en oud. Die byeenkomste wat ons hier aanbied, verskaf ook 'n finansiële inspuiting vir die dorp se besighede.
“Dit maak nie saak of dit in die 50 cc- of 450 cc-klas is nie, ons weet die naweek gaan Namibië se topjaers op Gobabis toesak en die deelnemers gaan beslis goed presteer. Ons is voorbereid vir alles wat kos, drinkgoed en ablusiegeriewe betref om besoekers te bederf.
“Saterdagoggend vroeg gaan die manne hul oefenrondtes deurjaag om hulself met die beste lyne deur die draaie en die res van die baan en kameelhompe te vergewis.
“Toeskouers is welkom om vanaf 07:00 te kom, want die manne gaan vroeg aan die gang spring,” het Venter vertel.
Toegang is N$50 vir volwassenes en N$30 vir kinders. Belangstellendes kan Elda by 081 411 1301 of Dries by 081 129 9454 vir navrae kontak.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie