‘Enige van ses’ kan UCI-resies wen

Tristan de Lange, Hugo Hahn en die plaaslike manne kry môre opdraand van ’n groepie sterk Suid-Afrikaners.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die teenwoordigheid van bergfietsryers van Suid-Afrika sal ekstra oemf verleen aan die Nedbank UCI Klas 1 en UCI Junior Olimpiese veldresiese wat môreoggend van vroeg af by die IJG-baan in Kleine Kuppe plaasvind.

Die beskikbaarheid van wêreldranglyspunte in die UCI-klasse (elite, o.23- en junior mans en vroue) maak hierdie jaarlikse geleentheid in die Namibiese hoofstad die moeite werd vir topryers uit buurlande om hier te kom meeding.

In die o.23- en senior elite mansresies om 14:30 (ses baanrondtes) sal die ontluikende Suid-Afrikaanse sterre Johan van Zyl, Keagan Bontekoning en Daniel van der Walt die groen en goud hier kom verteenwoordig. Al drie ryers is nog onder 23, maar ding in dieselfde resies as die elite manne mee.

Die teenwoordigheid van Tristan de Lange, ná sy onlangse deelnames in die buurland, sal gewis die Namibiese aanslag grootliks versterk. Sy landgenote Xavier Papo, Danzel de Koe en Brandon Plaatjies kan ook hul merk teen die hoog gerekende besoekers soos Johan van Zyl, wat verlede jaar tweede in die o.23-afdeling met die Suid-Afrikaanse nasionale kampioenskap was.

Hugo Hahn, die 2020 Namibiese junior kampioen, het in die eerste deel van die Namibiese fietsryseisoen grootliks sy talent met padwedrenne geslyp. Hahn het intussen sy fokus verskuif en is algaande besig om sy kleim plaaslik op sy bergfiets af te steek. Dit sal interessant wees wat hy teen die besoekers kan uitrig.

“Ek reken enige van die topses is in staat om hierdie resies te wen,” voorspel Hans du Toit, die Namibiese nasionale fietsry-afrigter.

Du Toit verwys onder meer na die onlangse uitslae in Suid-Afrika waar De Lange en Hahn ook deelgeneem het:SA XCO-beker Limpopo (7 Maart): De Lange 4de, Van Zyl 10de, Bontekoning 9de, Van der Walt 14de.SA XCO-beker Gauteng (27 Maart): De Lange 11de (tegniese probleme), Van Zyl 8ste, Bontekoning 10de, Van der Walt 7de, Hahn 15de.

• Die junior mansgroep (13:00, vyf rondtes) sluit die uiters talentvolle Luca Ruwiel in, wat die tegniese baan by Farm Windhoek sal geniet teen twee van Suid-Afrika se bestes. Kai von During is die wenner van die SA-beker in Gauteng, terwyl Gunter Katzke derde ná Von During geëindig het.

Bergran Jensen, wat tans goed op peil is, het vantevore reeds sy staal teen Suid-Afrikaners in naelskraapse renne gewys. Jensen het verlede naweek die Weskus-bergfietsren by Swakopmund die elite-afdeling met ’n naelrit na die eindstreep gewen.

• By die junior vroue (10:00, vier rondtes) is Andrea Schofmann, wat tans die Suid-Afrikaanse junior bergfietstoneel oorheers. Sy sal teen Monique du Plessis, die 2021 Namibiese junior kampioen, in die saal klim. Die talentvolle duo se mededinging sal hopelik die beste uit beide haal.

• Nicola Fester, Gabriela Raith, Courney Liebenberg, Carmen Johannes en Irene Steyn sal Namibië in die senior elite-resies (10:00, vyf rondtes)) verteenwoordig. Anita Yama sal as enigste buitelandse besoeker die Zambiese vlag laat wapper.

Kommentaar

Republikein 2025-08-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer