Endley hoor dalk eers oor 2 jaar sy lot
Endley hoor dalk eers oor 2 jaar sy lot

Endley hoor dalk eers oor 2 jaar sy lot

Die Suid-Afrikaanse minister van internasionale betrekkinge en samewerking en pres. Cyril Ramaphosa is oor die ter dood veroordeling van 'n Suid-Afrikaanse burger in Suid-Soedan ingelig.
Dit kan enigiets tussen twee maande en twee jaar duur voordat William Endley, die voormalige Suid-Afrikaanse weermagkolonel wat in Suid-Soedan ter dood veroordeel is, weet of hy die galg sal vryspring of nie.

Endley (57) het sy appèl teen die vonnis op 3 April ingedien en wag nou vir die hofproses om sy gang te gaan.

Sy suster Charmaine Walker het Dinsdag op Facebook geskryf sy prokureur gaan vertoë tot die hof rig om die saak te bespoedig, maar dat daar geen duidelikheid is oor hoe lank die appèlproses sal duur nie.

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, se kantoor het Vrydag aan Endley se familie geskryf om ontvangs van 'n brief oor die saak aan pres. Cyril Ramaphosa te bevestig.

Die departement sê die saak geniet aandag.

“Ek bid vir 'n gunstige uitkoms en dat die Suid-Afrikaanse regering ons sal bystaan,” sê Walker.

“Will sukkel intussen met gesond­heidsprobleme in die haglike ­tronkomstandighede.

“Wat hom die meeste frustreer, is dat sy bene geboei is. Dit takel sy moraal verder af.

“Ek kan myself nie indink hoe moeilik dinge oor die afgelope 20 maande vir hom was nie.

“Die geestelike en emosionele uitmergeling raak ons ook. Onthou ons asseblief in jul gebede, want sonder jul geloof en liefde sou ons nooit hier uitgekom het nie.

“Niks is onmoontlik nie en ek glo vas my broer sal veilig huistoe kom.”

Endley is op 18 Augustus 2016 deur die owerhede van Suid-Soedan in Juba in hegtenis geneem.

Regter Lado Eriminio Sekwat het Endley op 23 Februarie op vier aanklagte skuldig bevind, onder meer dat hy met Riek Machar, 'n voormalige Suid-Soedannese adjunkpresident en nou 'n rebelleleier, saamgesweer het om die regering van pres. Salva Kiir tot 'n val te bring. Daarvoor is hy die doodstraf opgelê.

Die hof het hom ook tronkstraf van twee jaar opgelê omdat hy Soedan onwettig betree het, vier jaar vir die publikasie van vals inligting en sewe jaar vir sabotasie en die opleiding van rebellemagte.

Rapport het vroeër berig Endley word dag en nag in Juba in 'n “septiese tronksel” in kettings gehou waar daar saans geen elektrisiteit is nie. Hy veg ook teen ondervoeding, 'n maagkwaal, malaria en wanhoop.

Sy familie is besorg dat hy nie twee jaar in sulke omstandighede sal oorleef nie.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer