En tog die deuntjie draal . . .
Elvira Hattingh - Elke aand voor sy gaan slaap, vra Jakaryntjie: “Sing, mamma, sing!”
Dis hoe ons die dag afsluit.
Dis effe van ‘n dilemma, ek bevind myself in ‘n situasie soos dié waarvan Laurika Rauch in “Kinders van die wind” sing: “Die woorde is vergete en tog die deuntjie draal, soos vaag bekende grepies in ’n baie ou verhaal . . . ”
En ek moet diep gaan krap, gaan soek na liedjies waarvan ek as’t ware genoeg woorde ken sodat ek nie net in koorgedeeltes vashaak nie – boonop kinderliedjies wat ek langer as twee en ‘n halwe dekades gelede gesing het!
Daar móét heelwat lirieke in my argiewe lê. Waarheen is al die liedjies heen van Grootfontein se Tannie Schneider se kindergarten? Daarná was dit PSWN se geliefde Juffrou Sariekie. Ons sub A’tjies het by haar voete gesit en opgekyk na hoe haar vingers meesterlik oor die ou skoolklavier se klawers dans.
Dán het daai klavier gepraat dat jy hoendervleis kry!
Die seuns het stoomgeluide gemaak, terwyl die meisies “hoor daar hoe stoom hy . . . dis Kimberley se trein” gesing het.
Stof het op die rakke van my herinneringe opgegaar en ek begin weer rakke afpak en “skoonmaak”.
Dit is soos ‘n nuwe sonsopkoms wat die dag, mettertyd, sonstraal vir sonstraal aan jou onthul. Eers onthou ek enkele sinsnedes ná die kore. Hoe meer ek krap, hoe meer kom dit terug. Alledaagse gebeurtenisse ontdek soms ‘n stowwerige stukkie onthou.
Dié week het ek opnuut afgekom op “Oom Jan sny koring op die land” en toe “Ek het ’n perd, ’n blinkvosperd”.
O ja, en “Ek’s ‘n dapper muis” ná ons een van die gediertetjies onder die braaiplek ontdek.
Nou hou Jakaryntjie vol ek moet daai muisliedjie sing, oor en oor.
Ek probeer alles om weg te kom van dié muis, soek kat- en haas- of skaapliedjies.
Só onthou ek van “Die kat kom weer” en “Hasie, hoekom is jou stert so kort?”.
Jakaryntjie hou vol ons moet eerder sing hoekom haar Jack Russell se stert so kort is en dit word dus “Stottie, hoekom is jou stert so kort?”
Sal haar eendag vertel wat van Jack Russells se stertjies word.
Maar die spreekwoordelike muis het verseker ook sommige argieflêers beetgekry.
Ek kan om die dood nie onthou hoe begin ‘n liedjie waarvan ek net die stertkant kan onthou nie. Dit gaan só: “Iets, iets . . . arme hasie, is jy bang, kyk net hoe jou ore hang. Hasie hop, hasie hop, hasie hop-hop-hop!”
Ma help later. Dis “Hasie in die holte”.
Ek ontdek weer, onder meer, vir “Saai die waatlemoen” en gunstelinge soos “Was ek maar ‘n digter”, en Francois Hayes se “Hou my bietjie vas.” Dan is daar “Sproetjies” uit die dae toe my lewensjare nog nie eers op al die vingers van een hand getel kon word nie.
Ek gaan soek weer die ou musiek en Sonja Herholdt se “Spaanse kitare”, Anton Gooden se “Kruidjie-roer-my-nie”, asook “Dans met die rooi rok” speel skielik weer in my motor.
Stuur asseblief groete aan Mannetjies Roux en, net soos ons in 2019, word vir net ‘n bietjie reën in Afrika gevra: “Maar my oom het gesukkel op die plaas, want die son was te warm en die reën te skaars. En die man van die bank het net sy kop geskud, want my oom, ja my oom was te diep in die skuld.”
Só eggo dit uit gister.
Mag ons almal hierdie ryk erfenis ook met ons kinders deel in tye wat ander se erfenis van oorsee heeldag en aldag ons aandag en voorkeur geniet.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie