En daar word ek ook platgetrek
En daar word ek ook platgetrek

En daar word ek ook platgetrek

[email protected]
Tanja Bause
Twee weke gelede het ek verkoue gehad. In die “ou normaal” sou jy jouself tuis behandel het, maar deesdae gaan sien jy liewerste 'n dokter. Ek het toe dokter toe gegaan en myself laat toets en daar het ek toe ook die virus. “Gaan huis toe en bly daar vir die volgende tien dae. Jy loop nie rond nie, jy verlaat nie die huis nie, jy kry geen besoekers nie, jy word vir 10 dae 'n kluisenaar,” sê my dokter in 'n streng stem.

Ek moet erken aan die begin het ek gevoel dit is alles bietjie oordrewe. Ek het gehoes en verkoue gehad, maar dodelik siek, dié was ek nou nie.

Dis egter nie wat ek twee dae later gedink het nie. Teen die naweek het ek hande in die lug gegooi en moed opgegee. Ek kon nie meer nie. As ek van my kamer na die badkamer gestap het, was ek moeg. Dit het gevoel asof ek 'n halfmarathon gehardloop het. Ek kon nie meer hoes nie, my lyf was seer van die gehoesery. Hoewel ek gedink het dit is miskien die enigste manier om 'n six-pack te kry, het ek besluit ek is in elk geval te oud vir so iets.

Ek het toe reeds my eerste inenting gekry en net nadat ek gediagnoseer is, het my dokter gesê: “Jy kan bly wees, want dit beteken jy sal dit lig kry en nie in 'n hospitaal beland nie.”

As dit wat ek deurgemaak het net lig was, dan sterkte aan al die mense wat nie ingeënt is nie. As die min asem, die kopseer, hoes, om nie te kan proe en ruik nie lig was, wil ek regtig nie weet waardeur mense in die hospitale gaan nie.

Dit is nie net 'n gewone verkoue nie; kom ons hou op om mekaar om die bos te lei. Wat my baie gehelp het, was my ondersteuningsnetwerk. Ek moes elke dag my suurstofvlakke meet en die foto vir my dokter stuur. Sy het daarna gekyk en elke dag 'n pittige stemopname vir my teruggestuur. Dit klink dalk baie klein en onbenullig, maar as jy in jou bed lê en na asem snak, is die vrolike gekwetter van jou dokter soos manna uit die hemel. Ek het ook 'n vriendin wat 'n paar weke voor my deur dieselfde gegaan het. Sy glo aan vars gemmer.

“Eet elke dag 'n stuk vars gemmer so groot soos 'n 10c. Elke dag moet jy dít eet en as jy kan dan eet jy nog 'n knoffelhuisie ook agterna, net so vir die wis en die onwis.”

Sy het my in die namiddag gebel en my gedwing om yskas toe te loop om 'n stukkie gemmer te eet.

“Kou sodat ek kan hoor jy kou, sodat ek weet jy sal oukei wees,” het sy gesê terwyl ek die vars gemmer langtand gekou het.

'n Ander vriendin was weer ­bekommerd oor my verlies aan smaak. Haar oplossing en ­wonderkuur vir elke kwaal – van 'n maagseer tot 'n gestampte toon – is Underberg. Sy het vir my Underberg by die hek kom los sodat ek kan toets of my smaak al terug is. Dit het nog nie en ja, ek het nou redelik voorraad van Underberg in my yskas.

Soos ek gesê het, klink dit seker vir baie mense simpel, maar wanneer jy in jou bed lê en op WhatsApp en Facebook die mense sien wat nie meer met ons is nie, wanneer jy voel jy kan nie meer nie, beteken dié klein gebare regtig baie vir jou.

So as jy iemand ken wat deur die virus platgetrek is, bel hulle en gesels oor onbenullighede. Laat weet hulle jy is daar en jy dink aan hulle al kan jy nie regtig iets doen nie. Wees net vir 'n oomblik die een wat hulle laat vergeet.

Kommentaar

Republikein 2025-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer