Ellen Sirleaf met Mo u00adIbrahim-prys vereer
Ellen Sirleaf met Mo u00adIbrahim-prys vereer

Ellen Sirleaf met Mo ­Ibrahim-prys vereer

'n Oudpresident van Liberië is vir haar 'uitsonderlike en transformerende leierskap' erken.
Malherbe Nienaber - Ellen Johnson Sirleaf, oud­president van Liberië, is met die Mo Ibrahim-prys vir prestasie in leierskap in Afrika vereer.

Die prys word aan haar toegeken vir haar “uitsonderlike en transformerende leierskap te midde van ongekende en hernude uitdagings” om Liberië te herstel ná jare van 'n verwoestende burgeroorlog, sê die stigting.

Sirleaf was van 2006 tot 2017 president van Liberië.

Die prys gee erkenning aan vooruitstrewende leiers in Afrika wat in hul ampstermyn hul land ontwikkel, die demokrasie versterk en menseregte en volhoubare ontwikkeling bevorder het.

Dr. Salim Ahmed Salim, voor­sitter van die Mo Ibrahim-stigting se pryskomitee, sê in 'n verklaring Sirleaf het president geword toe die land deur oorlog verwoes is. Sy het 'n versoeningsproses gelei wat op nasiebou en die uitbou van ­demokratiese instellings gefokus het.

“In haar twee termyne het sy ­onvermoeid namens die mense van Liberië gewerk. So 'n reis kan nie sonder tekortkominge wees nie en baie uitdagings staar die land steeds in die gesig. Tog het Sirleaf in haar termyn van 12 jaar die grondslag gelê waarop Liberië nou kan bou.”

Sedert 2006 is Liberië die enigste van 54 lande wat in elke kategorie en subkategorie van die Ibrahim-indeks vir regering in Afrika 'n verbetering getoon het.

Mo Ibrahim, 'n Brits-Soedannese magnaat wat die prys ingestel het, sê hy is trots daarop dat Sirleaf die eerste vrou is wat die prys ontvang en hy hoop dit sal nog vroue in Afrika en die res van die wêreld inspireer.

Vorige ontvangers van die prys is Hifikepunye Pohamba van Namibië (2014), Pedro Pires van Kaap Verde (2011), Festus Mogae van ­Botswana (2008) en Joaquim Chissano van Mosambiek (2007).

Oudpres. Nelson Mandela is ook in 2007 as 'n erepryswenner aangewys.

Die prysgeld is US$5 miljoen wat oor 10 jaar betaal word en US$200 000 jaarliks vir die res van die wenner se lewe. Die stigting oorweeg dit om nog US$200 000 oor 10 jaar te skenk aan bedrywighede en sake wat die wenner na aan die hart lê.

Kandidate vir die prys is almal voormalige staats- of regeringshoofde wat in die afgelope drie jaar uitgetree het, demokraties verkies is en hul termyn ingevolge die land se grondwet uitgedien het.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer