Elke oomblik tel wanneer paaie kruis
Hoe vinnig en onverwags kan ’n totale katastrofe gebeur?
Dis met ’n dankbare huppel in die stap dat dié vraag vandag merendeels filosofies gevra word, omdat die beskermengele op hul pos was om die ergste af te weer sodat omstanders net die skaduwee van ’n ramp gesien het.
Ek verwys na die opflikkering twee Sondagoggende gelede (min of meer in kerktyd?) in die oomblikke voordat die nasionale kampioenskap vir padfietsryers sy klimaks bereik het, naamlik die elite mansresies se beslissende einde.
Drikus Coetzee, straks die neutrale kyker se gunsteling vanweë sy string ongelukkige uitslae in belangrike resiese, het met ’n bomenslike solopoging oor die laaste 32 kilometer van die 150 km afstand weggebreek sonder dat sy hoog gerekende uitdagers ooit weer binne 60 sekondes van hom kon kom.
Gelukkig het Coetzee salig onbewus gebly van die groot drama wat afgeweer is in die laaste paar meters voordat hy die eindstreep vir sy droom – ’n eerste Namibiese kampioenskap in die padresies – behaal het.
Heel onskuldig het ’n voertuig op daardie oomblik vanuit die teenoorgestelde rigting aangery gekom in die linkerbaan wat vir padverkeer oopgehou is.
Op presies die regte oomblik het ’n fratswind een van die borge se bemarkingsborde van metaal wat as afskorting tussen die bane gedien het, omgeruk sodat die boonste hoek in die wiel van die voertuig verstrengel geraak het. Die bestuurder het nie eens vinnig gery nie, maar het genoeg momentum gehad dat drie of vier advertensieborde soos domino’s in die regterbaan beland het waarin die fietsryers se eindstreep opgestel was.
Danksy blitsige optrede van omstanders is die pad opgeruim net enkele oomblikke voordat Coetzee met ’n verheugde kreet en arms omhoog oor die wenstreep geseil het.
’n Mens kan jou maar net verbeel wat sou gebeur indien die uitslag tussen twee of meer jaers in die weegskaal was en hulle in ’n selfs meer verbete stryd teen dalk 50 km/h ingestoom gekom het met geen uitweg teen die versperrings in hul pad nie.
Dit herinner aan ’n soortgelyke noue ontkoming in Maart 2017 in die plaaslike padfietsreeks, op ’n byeenkoms waar die sirkelroete deur die suidelike voorstede beweeg het.
Die begin- en eindpunt was naby ’n bedrywige vierrigtingkruising, met ryers wat oor die finale meters in ’n inglipbaan links om ’n hoek geseil het met die eindstreep ’n klompie meters verder.
Weer eens was daar net enkele sekondes waarin ’n ongelooflike fratsongeluk met ernstige beserings net betyds afgeweer is – voordat die voorste tien jaers almal binne een sekonde oor die streep geflits het.
’n Sedanvoertuig het so ewe in die afgesperde pylvak ingery, ondanks die baanopsieners en verkeerspolisie wat juis die aankomende verkeer moes wegwys. Die verbouereerde bestuurder en sy voertuig is verwyder en die fietsryers is eers agterna oor hul noue ontkoming ingelig.
Baie is al gesê oor die onveilige toestande waarin fietsryers die hoofstad se toegangspaaie en snelweë met motoriste en swaarvoertuie moet deel. Sommige fietsryers het in onlangse jare in botsings gesterf, afgesien van dié wat oorleef het om hul storie te vertel. Selfs ’n val wat gebeur wanneer net twee ryers se fietswiele kontak maak, of wanneer ’n voetganger in die pad beland, kan maklik bene breek.
Dis waar wat hulle sê – fietsry, boks en gevegskunste is van die sporte waarin deelnemers nie “speel” nie. Elke sport het sy beserings, maar in dié sporte kom die houe selde sonder ernstige gevolge.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie