El Niño slaan SA se buurlande ook hard
Vida Booysen
Dit blyk dat die gevolge van die somerseisoen se verwoestende El Niño-weerverskynsel in Suider-Afrika nou ernstige afmetings in Suid-Afrika se buurlande begin aanneem.
Volgens ’n onlangse verslag deur die Internasionale Rooikruis sukkel tot 31,6 miljoen mense in die streek om hulself te voed en die bedreiging van hongersnood raak al hoe feller.
Die meeste van hierdie lande maak op Suid-Afrika staat vir voorraad – in ’n tyd wat dié land ook sukkel om sy eie voorraad van elders aan te vul.
Dieselfde El Niño-droogte het veroorsaak dat Suid-Afrika vanjaar die kleinste mielie-oes in agt jaar gaan lewer en die land moes vanjaar reeds 169 551 ton mielies invoer, sê Wandile Sihlobo, landbouekonoom van Agbiz.
Hiervan is 87% geelmielies en 13% is witmielies.
Uitvoerkontrakte
Suid-Afrika voorsien steeds die mielies wat na die res van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) uitgevoer word.
Volgens Sihlobo lewer Suid-Afrika normaalweg sowat 70% van dié lande se ingevoerde mielies en het in die huidige seisoen reeds 57 811 ton na streeksmarkte uitgevoer. Hiervan was 70% witmielies en 30% geelmielies.
Die meeste van hierdie mielie-uitvoer na die streek vorm deel van langtermyn-uitvoerkontrakte. Omdat Suid-Afrika normaalweg ’n mielie-uitvoerder is, is dié markte belangrik, sê dr. Kobus Laubscher, onafhanklike landbou-ekonoom van Bloemfontein.
“ ’n Mens kan nie slegs na willekeur sulke markte bedien nie, want dan neem ander uitvoerlande die kontrakte oor en herwin ons nie weer in tye van oorskot ons buitelandse markte nie.”
Daarby is voorsiening van mielies – ’n stapelvoedsel van die buurlande – ook belangrik om voedselsekerheid in die streek te handhaaf, sê Laubscher.
Só vaar buurlande
Bloomberg berig dat Botswana se mielievoorraad nou opgedroog het en die land probeer om van Suid-Afrika en Zambië mielies te kry.
Sy hele silo-voorraad van mielies wat plaaslike verbou is, is nou uitgeput, het die staatsbeheerde landboubemarkingsraad van Botswana gesê.
Dié instansie bestuur die land se strategiese voedselreserwes en word verplig om ’n minimum van 10 000 ton mielies in reserwe te hou.
“Die raad het begin om sowat 5 000 ton geelmielies van Suid-Afrika en 250 ton witmielies van Zambië te koop, terwyl ons nog sowat 2 000 ton witmielies van plaaslike boere in die huidige seisoen verwag,” lui ’n verklaring wat vandeesweek uitgereik is. Die land se binnelandse verbruik van witmielies is sowat 100 000 ton per jaar.
Daar word verwag dat Botswana se president, Ian Khama, binnekort ’n noodtoestand sal afkondig en ook bekend sal maak watter droogtehulp boere en gemeenskappe sal ontvang.
Zambië het intussen gesê dat hy sy bestaande uitvoerkontrakte sal eerbiedig, maar dat verdere uitvoer tot die einde van September opgeskort is. Die land se oes is vanjaar byna 10% hoër as verlede jaar, maar hy wil voorraad in reserwe hou vir die volgende seisoen.
Malawi verkeer in groot nood en moet tot soveel as 8,4 miljoen mense voed wat deur hongersnood in die gesig gestaar word.
Dié land probeer om ’n miljoen ton mielies uit Europa in te voer, aangesien hy nie genoeg voorraad van Zambië en Suid-Afrika kan kry nie, het die minister van landbou, George Chaponda, aan Bloomberg gesê.
Die land sal sowat US$353 miljoen aan mielie-invoer moet bestee, nadat ’n tweede jaar van droogte die plaaslike oes tot net 2,4 miljoen ton verminder het – die laagste in vyf jaar.
Malawi het reeds ’n noodtoestand afgekondig en verwag dat die aantal mense wat vanjaar honger ly, aansienlik sal styg.
Meer as vier miljoen mense in Zimbabwe word deur hongersnood in die gesig gestaar nadat dié land vanjaar seker die ergste onder El Niño deurgeloop het.
Volgens die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram sal vanjaar se mielie-oes in Zimbabwe net 60% van die gemiddeld van die afgelope vyf jaar wees en dit sal skaars genoeg wees om die plaaslike bevolking vir drie maande te voed. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie