Eksamenuitslae: Steeds ruimte vir verbetering
Die Onderwysersunie van Namibië (TUN) verwelkom die verbetering in eksamenuitslae, maar sê heelwat moet nog gedoen word.
Estelle de Bruyn
Die vorderingspunte wat vereis word om van graad 10 na graad 11 bevorder te word, het die afgelope 16 jaar op 23 punte gestagneer en van die aanvanklike teiken van 27 punte is daar nog geen sprake nie.
Dit is van die besware van die lede van die Onderwysersunie van Namibië (TUN) wat gister tydens 'n nuuskonferensie in Windhoek hul griewe gelug het.
Tog verwelkom die vakbond die verbetering in die aantal A-simbole wat in graad 10 behaal is. Van 2012 tot 2015 was dit 0,3% van kandidate en in 2016 is dit tot 0,4% verbeter. Die verbetering van die graad 10-slaagsyfer van 54% tot 55,7% en die verbetering van 29,8% tot 36,8% van graad 12-leerlinge op gewone vlak wat universiteitstoelating gekry het, is eweneens verwelkom.
Volgens die sekretaris-generaal van TUN, mnr. Mahongora Kavihuha, is daar egter ongelukkigheid oor die bestuurstelsel vir onderwysers wat nie na wense is nie en dat oënskynlik “baie min gedoen word om doeltreffendheid te verbeter”.
“Onderwysers het steeds nie behoorlike huisvesting nie; daar word van hulle verwag om take uit te voer waarvoor hulle nie volgens staatsdiensreëls vergoed word nie; hulle word geviktimiseer wanneer hulle aansoek doen om dinge soos menslikheids- of vakansieverlof; hulle word teen hul wil verplaas; afgetrede onderwysers ontvang laat betalings . . . die lys is eindeloos,” sê Kavihuha.
Die vakbond is ook gefrustreerd omdat Namibiërs onder meer by enige kantoor van die ministerie van binnelandse sake persoonlike inligting kan bekom en oorplaatjies van Namibiese beeste dadelik vir veeartsenydienste 'n aanduiding sal gee wie die eienaar van 'n dier is, maar daar is nie 'n sentrale databasis vir die nagenoeg 30 000 onderwysers waarin belangrike inligting vervat is nie. Dit sluit onder meer in wanneer 'n onderwyser begin skoolhou het, wat sy of haar kwalifikasies is en die huidige salarisse wat hulle verdien.
Voorts, sê Kavihuha, het Namibië sedert onafhanklikheid goed gevaar met drie van die sleutelpilare van die onderwys, naamlik toegang, gelykheid en demokrasie. Tog meen hy die land het gefaal wat die gehalte van onderwys betref.
Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur word daarvan beskuldig dat die positiewe vordering wat met die verwesenliking van die eerste drie pilare gemaak is, omgekeer word.
As voorbeelde word genoem die “onverantwoordelike en eensydige poging om die skoolkalender op 16 Junie verlede jaar te verander”.
Voorts word die sogenaamde oorname van die herdenking van wêrelddag vir onderwysers deur die lede van net een vakbond, met die uitsluiting van TUN, as 'n “teleurstelling” en “'n diskriminerende tendens” beskou. Die onbetrokkenheid van TUN in besluitnemingsprosesse wat onderwysers regstreeks raak, soos die ondertekening van prestasie-ooreenkomste, word ook betreur.
Die unie is ook ontevrede met die permanente sekretaris van onderwys, kuns en kultuur, me. Sanet Steenkamp, wat glo nie op sy korrespondensie reageer nie.
“Die land is besig om 'n hersiene leerplan te implementeer en probeer in die nasionale behoeftes vir die verbetering van gehalte onderwys voorsien, maar sonder 'n behoorlike ondersteuningstelsel vir die hersiene leerplan, sal die pogings geen vrugte afwerp nie.
“In die verband stel TUN die hersiening van die ministerie se organogram voor, veral waar dit op akademiese en ondersteuningsdienste van toepassing is. Ons moet ontslae raak van uitgediende posisies soos skoolinspekteurs en eksamenbeamptes en die rol en werksaamhede van vakadviseurs herdefinieer. Dit sal ook tot kostebesparings lei,” meen Kavihuha.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie