Eksamen versuur
'n Tekort aan soutsuur het die voltooiing van 'n praktiese vraestel by sekere skole in die land vertraag.
Henriette Lamprecht – Planne moes Woensdag inderhaas beraam word nadat soutsuur vir graad 12-leerlinge se praktiese fisiese wetenskap-eksamen op hoërvlak nie betyds by sekere skole beskikbaar was nie.
By een skool moes die eksamen gister om 06:15 begin, maar die soutsuur het eers ure later opgedaag en derhalwe het die praktiese eksamen eers teen 12:00 afgeskop.
Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het gesê dié voorval beïnvloed nie die geldigheid van die eksamen nie.
Volgens die direkteur van onderwys vir die Khomasstreek, mnr. Gerard Vries, is leerlinge nie deur die vertraging benadeel nie.
“Die leerlinge kry dieselfde tyd wat hulle sou kry om die praktiese eksamen af te lê. Die feit dat dit langer geduur het voor hulle begin het, sal ook in aanmerking geneem word wanneer hulle geëvalueer word,” het Vries benadruk.
Volgens hom is die wet op openbare verkryging vir die vertraging in die aflewering van die nodige toerusting en benodigdhede vir die eksamen te blameer.
“Dit veroorsaak groot vertragings, omdat dit ‘n langer roete behels.”
In die verlede en voordat dié wet in werking getree het, sê Vries, het dinge “vlot verloop”.
“Nou is die regulering baie strenger en neem dit baie langer.”
Die nuwe verskaffer van soutsuur het gister inderhaas met 'n vragmotor uit die Noorde vertrek om dit betyds by skole in Windhoek te kry.
“Van die toerusting wat nodig was, het ons van die graad 11’s af geskuif na waar dit kort was. Almal kon skryf.”
Vries het voorts gesê die vertraging in die aflê van die praktiese eksamen sal tydens ‘n vergadering van die eksamenraad bespreek word.
Die direkteur van eksamens, me. Clementine-Tsumis Garises, het gesê geen berigte is van ander streke ontvang oor enige probleme met die aflê van die praktiese eksamen weens ‘n gebrek aan toerusting nie.
Intussen het ‘n bron by ‘n skool gesê soutsuur wat op sement geval het, het geel kolle op die sement gebrand. ‘n Meisie moes ook haar broekiekouse uittrek ná druppels van die soutsuur gate daarin gebrand het.
“Die kinders sit met wit wolke om hulle. As van die soutsuur op die staanders beland, sien jy net wolke trek. Dit moet erg verdun wees en nie soos dit nou is nie,” het die bron gesê.
Volgens die bron moes meer as 80 kinders by dié skool die praktiese eksamen aflê.
“Die kinders is van vroeg af hier en gaan nou tot watter tyd by die skool wees om die eksamen af te lê. Party kinders het geld gehad vir snoepie, ander gaan meer as 12 ure sonder kos wees, maar hul vraestelle word saam met skole gemerk wat wél betyds begin het. Dit benadeel ons kinders.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie