Ekonomiese herlewing onder bespreking
Ekonomiese herlewing onder bespreking

Ekonomiese herlewing onder bespreking

'n Parlementêre staande komitee bied 'n slypskool op Otjiwarongo aan om onder meer die ekonomiese uitdagings te ondersoek wat ministeries asook staatsinstellings in die gesig staar.
Ester Kamati
Ester Kamati op Otjiwarongo – Die parlementêre staande komitee oor ekonomiese en openbare administrasie se se vierdaagse slypskool op Otjiwarongo het gister ten einde geloop.

Die fokus van die slypskool was om staatsondernemings (SOE's), regeringskantore, ministeries en agentskappe se finansiële, mensekapitaal- en ontwikkelingstrategieë en vordering te ontleed, asook om uitdagings te identifiseer en te bespreek.

Die voorsitter van die komitee, mnr. Natangwe Ithete, het gesê die komitee wil doeltreffende lewering van dienste aan die publiek verseker.

Die komitee is in September 2020 in die lewe geroep om toesig te hou oor programme van regeringskantore sowel as bedrywighede rakende die land se ekonomie.

“Deur hierdie platform sal die ver­skillende belanghebbendes met die komitee in gesprek kan tree oor tersaaklike kwessies rakende samewerking en ondersteuning,” het Ithete gesê.

Finansiële prestasies en kapitaalprojekte is onderwerpe wat bespreek sou word.

Instellings is ook uitgedaag om strategieë voor te stel om die Namibiese ekonomie ná die impak van die Covid-19-pandemie te herstel.

Verskeie ministeries sowel as staatsondernemings (SOE's) sou die geleentheid kry om oor hul mandaat en uitdagings uit te brei, asook oor hul planne vir ekonomiese herlewing ná die moeilike 2019-'20-finansiële jaar.

Instansies wat die kans gekry het om voorleggings te doen, sluit in TransNamib, die Nasionale Beplanningskommissie, die Nasionale Padveiligheidsraad, die Namibië Lughawensmaatskappy, die Agentskap vir Nywerheidsontwikkeling in Namibië, die Paaieowerheid, die Namibië Burgerlugvaartowerheid en die hawe-owerheid Namport.

Die ministeries van staatsondernemings en nywerheidsontwikkeling en handel sowel as die ministerie van finansies sou teenwoordig wees.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer