Ekonomiese basis verbeter
Ekonomiese basis verbeter

Ekonomiese basis verbeter

Namibië se internasionale reserwes het aansienlik verbeter en staan nou op N$31,5 miljard.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Ondanks die feit dat 2017 gekenmerk is deur stadiger ekonomiese aktiwiteit, veral in die konstruksie- en kleinhandelsektor, het die basis van die ekonomie betekenisvol verbeter.

Dit kan gesien word in stadiger groei in oorhoofse regeringskuld, ’n stadiger verbruikersprys-inflasie, ‘n verkleining van die handelsbalans en ‘n betekenisvolle toename in internasionale reserwes tot meer as vyf maande se invoerdekking in vergelyking met die Harambee-welvaartsplan (HHP) se teiken van drie maande.

In wesenlike terme was Namibië se internasionale reserwes aan die einde van September meer as N$31,5 miljard teenoor die N$13,5 miljard aan die einde van 2014.

Dít volgens ‘n oorsig oor die stand van die ekonomie wat verlede Woensdag tydens ’n nuuskonferensie by Staatshuis gegee is.

Ten einde fiskale stabiliteit te verseker, gaan die regering voort met strenger maatreëls om koste te beheer en om uitgawes te prioritiseer.

Nie-noodsaaklike besteding is met meer as 50% gesny.

Om die uitneem van duur lenings tot die minimum te beperk, het die regering wetgewing oor vennootskappe tussen die staatsdiens en die private sektor (PPP) gefinaliseer om beleggings uit die private sektor vir die ontwikkeling van infrastruktuur te fasiliteer.

Tot dusver is 35 infrastruktuurprojekte vir PPP-ontwikkeling geïdentifiseer.

’n Studie vir drie verdere PPP-beleggings nader ook voltooiing.

Om ekonomiese transformasie ‘n werklikheid te maak, is 10 strategieë vir groei tydens die eerste jaar van die HHP bekend gestel.

Gebaseer op hierdie welslae is ‘n aantal verenigings soos die Houtskoolvereniging op die been gebring.

Die inwerkingstelling van die handves vir die kleinhandelsektor tel spoed op met groter impak wat in die skoonheidsprodukte- en akkerbou-industrieë aangeteken is.

Tot nou toe het 12 kleinhandelaars, een verspreider en drie vervaardigers die handves vrywilliglik onderteken.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kleinhandel in Klere sal betrek word.

Dit het die potensiaal om deurbrake vir plaaslike tekstielvervaardiging te bewerkstellig.

Konsultasies oor die Nuwe Raamwerk vir Gelyke Ekonomiese Bemagtiging (NEEEF) is afgehandel.

Die hersiene dokument sal vroeg in 2018 die onderwerp van ‘n kabinetswerkwinkel wees, alvorens dit gefinaliseer en met die publiek gedeel sal word.

Ander transformerende aktiwiteite wat eersdaags voltooi sal word, is die klerevervaardigingsaanleg op Keetmanshoop, die diens van 24 hektaar se nywerheidsgrond by Brakwater en die diens van ‘n bykomende 34 hektaar se nywerheidsgrond op Walvisbaai.

’n Koue-stooraanleg op Walvisbaai is op ‘n vinnige trajek en met voltooiing sal dit tot voordeel van Namibiese beesvleisuitvoere strek.

’n Beleid vir jeug-entrepeneurskap word ook gefinaliseer.

In die oorsig word daarop gewys dat Namibië, wat ekonomiese mededingendheid betref, se posisie afgeneem het op die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se mededingendheidsindeks en die Wêreldbank se gradering van hoe maklik dit is om sake te doen.

Wat laasgenoemde betref, het Namibië van die 104de posisie in 2016 afgeskuif na 108ste in 2017.

Namibië se gradering op die Afrika-vasteland bly egter onveranderd op nommer nege.

Die regering hoop dat voortdurende hervormingsmaatreëls teen die einde van die Harambee-periode (2019/2020) Namibië se gradering betekenisvol sal verbeter.

Kommentaar

Republikein 2026-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer